Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) se besluit om vroue steeds nie op hulle kansels toe te laat nie, werp geen refleksie op vroulike dominees in die NG Kerk wat volgens hulle innerlike oortuiging en kragtens die NG Kerk se besluite as predikant optree nie.
So sê ds Cassie Aucamp, ondervoorsitter van die GKSA se buitengewone algemene sinode. Dié sinode het in Januarie hulle besluite bevestig dat vroue in die GKSA nie predikante of ouderlinge mag wees nie, maar wel as diakens kan dien.
Die sinode het ses beswaarskrifte behandel teen die verbod op vrouepredikante en -ouderlinge. Daarin is meer as dertig verskillende gronde vir beswaar aangevoer. Dit is tematies ingedeel en daar is lank gepraat oor die openbaringshistoriese aspekte van die saak, oor 1 Korintiërs 14, oor 1 Timoteus 2, oor kerkregtelike kwessies en oor argumente wat praktiese sake aangeroer het.
Nie een van die argumente kon die sinode egter oortuig om die GKSA se standpunt te verander nie.
Aucamp, wat ook voorsitter is van die GKSA se deputate vir ekumene, meen nie dat hierdie besluit ’n hindernis hoef te wees vir hulle samewerking met die NG Kerk nie. Hy sê dis ongelukkig die realiteit dat NG dominees wat vroue is, nie in die GKSA kan preek nie, al maak die samewerkingsooreenkoms tussen die kerke voorsiening vir kanselruiling.
Daar is baie terreine waar die kerke ondanks hulle verskille steeds kan saamwerk. Nes die verskille nie gebruik moet word om die samewerking te kelder nie, moet die samewerking ook nie gebruik word om die kerke se eie besluite in gedrang te bring nie.
Aucamp sê hy is oortuig dat die saak van vroue in die ampte nie ’n kwessie is wat die belydenis in gedrang bring nie.