Ek ontmoet hom by Binnelandse Sake in Krugersdorp. Buks van der Westhuizen (43). Waar hy langs my in die tou sit, kan ’n mens sien hy het swaargekry.
“Ek besoek Dominee se gemeente die afgelope tyd,” vertel hy vriendelik. “Ek is onlangs op parool vrygelaat en werk by oom Jannie.”
Jan du Plessis is ’n gemeentelid wat dekades al by die gemeente se getuienisaksie betrokke is. ’n Groot man met ’n sagte hart en ’n passie vir mense. Iemand wat getrou aanhou om God se liefde uit te dra.
Buks vertel sy storie: Daar was ’n huis met min liefde. ’n Ma wat misbruik is deur mans wat gekom en gegaan het. ’n Suster en ’n broer, elkeen met ’n ander pa. Sy eie pa het Buks nooit geken nie.
Hy vertel van sy ma en stiefpa se dagga en drank, van ’n hele paar keer se wegloop van die huis af. Van ’n opgeskorte vonnis vir winkeldiefstal toe hy nog minderjarig was. Van twee maande op straat bly en steel vir oorlewing, van die mishandeling en eensame opsluiting by die verbeteringskool waarheen hy gestuur is.
Op 15 het hy 19 dae lank deur die Karoo Johannesburg toe geloop toe daar niemand was om hom te kom haal vir die vakansie nie.
Hy dien drie jaar tronkstraf uit nadat hy ’n fiets gesteel het. Na ’n aanranding word hy vir nog sewe jaar tronk toe gestuur.
Dis toe dat hy vir Jan du Plessis leer ken, en deur hom leer wat liefde is, die liefde wat Jesus vandag nog deur sy mense na die verlore Bukse van die wêreld toe bring.
Jan was betrokke by ’n gevangenisbediening genaamd Kairos. Ek onthou dat ons gemeente Kairos ondersteun het deur koekies te bak. Dat die lidmate briefies geskryf het vir gevangenes, elkeen in ’n koevert met ’n naam op. Hoe die gemeente vir die gevangenes gebid het.
Buks vertel dis die eerste briewe wat hy in jare gekry het. Nie sy ma, broer of suster het ooit teruggeskryf nie.
Geleidelik het hy besef dat God ook in hom belang stel, nie net in rykes nie.
Na sy vrylating bly hy ’n tyd lank by Jan en Hannie du Plessis. Hy kry werk en trek nader aan sy werkplek. Maar sy jong geloof is broos en kwesbaar. Nog ’n misdaad volg en hy word weer tronk toe gestuur. Dié slag vir 23 jaar.
Maar Jan en Hannie los nie vir Buks nie, soos God ’n mens nie los nie. Hulle gereelde besoeke en briefies hou hom in ’n baie moeilike tyd op koers.
Na 16 jaar en 9 maande word hy in September 2015 op parool in die sorg van Jan du Plessis vrygelaat.
Hy woon nou in ’n beskeie kamer op ’n kleinhoewe maar borrel dankbaar van vreugde oor God se genade en goedheid. Hy is nou iemand. Op sy bors staan: “Saved”. Hy het werk en begin om sy waarde te ontdek.
Sonder “oom Jannie en tannie Hannie” sou niks hiervan moontlik gewees het nie, sê hy. “Ek sou lankal dood gewees het.”
Psalm 103 speel op sy lippe. “So ver soos die ooste van die weste is en so hoog soos die hemele van die aarde is verwyder Hy ons sonde van ons.”
“God kan nie verantwoordelik gehou word vir ons sonde nie, dis ons keuse,” haal hy Jakobus aan.
Hy glimlag.
▶ Ds Jannie Pelser is leraar van Prisma, vroeër Rant-en-Dal gemeenskapskerk.
