Die kerk moet die draer van hoop wees.
Dit is die uitdaging wat prof Dirkie Smit, dosent in Sistematiese Teologie en Ekklesiologie aan die Universiteit Stellenbosch, gestel het tydens sy bydrae by die Fakulteit Teologie se Teologiese Dag. Die tema van die dag was “Trauma and trust – facing our past, envisioning our future”.
Smit het prof Jaap Durand aangehaal waar hy in Januarie 1986 die kerk as ’n “draer van hoop” beskryf. Dít in ’n jaar met geweld in die strate, toe vele predikante in die tronke of onder huisarres was en vryheid van spraak nie aan die orde van die dag was nie.
“Die jaar 1986 was ’n somber jaar in die Suid-Afrikaanse geskiedenis,” het Smit gesê.
Hy het daarop gewys dat Durand gewaarsku het teen ’n kerk wat haarself aan toekomskunde skuldig maak. Durand het gewaarsku dat die kerk se boodskap van hoop, nié op die huidige koerantberigte, statistieke, planne en beloftes van ’n gelukkiger en beter toekoms gebaseer kan wees nie. Die kerk se boodskap van hoop kan nié een van optimisme wees waar daar gefokus word op die strale van lig in die donker wêreld en sodoende ’n belofte op ’n beter toekoms verkondig nie.
“Die hoop van die kerk is anders. Die kerk se boodskap van hoop moet gebaseer wees op dit wat nie gesien kan word nie. Die kerk moet haarself besig hou met die adventus van God, die belofte dat God na ons toe kom. God self kom na ons in die hede. God is reeds teenwoordig binne ons en is reeds en sal altyd en ewig met ons en in ons wees. God is ons toekoms en daarom kan die toekoms nie bereken word nie,” sê Durand.
“God is onvoorspelbaar. Die toekoms is oop en vol verrassings en mag totaal anders wees as wat ons dink. Dié boodskap van hoop moet op die kruis en opstanding gebaseer wees. Die uiterste transformasie.”
Dié tipe hoop wat ons in die opstanding vind, moet die hoop van die kerk wees.
Smit het gesê die kerk moet dié boodskap nou ook dra. Gelowiges se vertroue moet nie op die kerk self geplaas word nie, maar wél op die belofte van ’n God in die hede. ’n God van uiterste verrassing wat selfs die kerk kan verander. ’n God van transformasie.