Vader Michael Lapsley se boek Uiteindelik vry is ’n moet-lees vir die Afrikaanse gemeenskap.
So het prof Nelus Niemandt, hoof van die Departement Godsdiens- en Sendingwetenskap aan die Universiteit van Pretoria, gesê by die bekendstelling van die Afrikaanse vertaling van Lapsley se bekroonde boek Redeeming the past.
Dié boek, met die subtitel “My reis van vryheidsvegter tot geneser”, vertel Lapsley se lewensverhaal. Dit is in 2013 bekroon met die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vir Christelike boeke.
Dit vertel dat Lapsley in Nieu-Seeland gebore is, in Australië gestudeer het en in 1973 na Suid-Afrika gestuur is. Hy was geskok deur die apartheidstelsel wat hy hier aangetref het en het by die weerstand daarteen betrokke geraak.
Dr Frank Chikane van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het by die bekendstelling gesê Lapsley se groot sonde was dat hy die morele legitimiteit van apartheid bevraagteken het. Hy het nie wapens gedra nie.
Hy is in 1976 Suid-Afrika belet en is toe Lesotho toe. Na ’n inval van Suid-Afrikaanse magte waarin talle mense dood is, het Lapsley Zimbabwe toe uitgewyk.
In 1990, nadat die politieke oorgang reeds begin het, het hy ’n briefbom ontvang wat sy hande en een oog geëis het en byna sy lewe gekos het.
Chikane het gesê dit was daarop gemik om sy liggaam te vernietig, maar God het sy lewe gespaar.
Lapsley het geen bitterheid oorgehou nie, maar die Institute for the Healing of Memories op die been gebring waardeur hy mense help om die trauma van die verlede te verwerk.
Lapsley het self by die bekendstelling, na aanleiding van wat ná die Tweede Wêreldoorlog in Duitsland gebeur het, gesê dat Suid-Afrika kan verwag dat die destydse trauma nou, veertig jaar ná die Soweto-opstande, al meer gaan manifesteer.

Hy het gesê daar is ook onder Afrikaners baie pyn uit die vorige bedeling en daarom is dit nou ’n gepaste tyd dat sy boek “in die hemelse taal van Afrikaans” verskyn.
Niemandt het verwys na ’n doktorale studie wat gedoen is oor die groot impak wat militêre diensplig op ’n hele geslag Afrikanermans gemaak het. Dit het onder meer getoon dat jong wit mans al meer gemilitariseer is, dat hulle ’n militaristiese denkwyse ontwikkel het en al minder verdraagsaam geword het teenoor ander rasse en ander sieninge as hulle eie.
Teen dié agtergrond het hy Lapsley se verhaal bestempel as ’n storie van hoop. Dit open ’n nuwe venster op die toekoms en op God se toekoms.
Niemandt het ook gesê hy dink die Afrikaanse titel, Uiteindelik vry, werk beter as die Engelse titel, Redeeming the past.
Hy het verwys na die vryheid wat kom as ’n mens genesing vind van die herinneringe van die verlede. Dit is die hoofboodskap van die boek, het Niemandt gesê.
Dit vra van ’n mens hoe jy betrokke kan raak by die genesing van die herinneringe van die verlede, veral in die Afrikaanse gemeenskap waar daar baie pyn is.
Vir hom het die boek moed gegee. Toe hy dit neersit, het hy gevoel dat die toekoms maar kan kom.
