Met die 500-jarige viering van die Reformasie in 2017, het die Afrikaanse kerkgemeenskap nou ’n lied gekry waarin hulle die vyf slagspreuke van die kerkhervorming kan uitsing.
Dié slagspreuke – “Die Skrif alleen”, “Genade alleen”, “Geloof alleen”, “Christus alleen”, en “Alleen aan God die eer” – staan algemeen bekend as die Solas, omdat dit telkens in Latyn begin met die woord “sola” wat “slegs” of “alleen” beteken.
Die VONKK-werkgroep het onlangs VONKK-lied 341 goedgekeur waarin hierdie slagspreuke gesing word. Die lied staan bekend as “Sola Scriptura!” en die teks is geskryf deur ds Hannes van der Merwe van die Hervormde Kerk. Dit benut die bekende wysie wat deur Martin Luther gekomponeer is en gesing word met Lied 476 in die Liedboek van die Kerk, “’n Vaste burg is onse God”.
Die VONKK-werkgroep het besluit om dit dadelik beskikbaar te stel, sodat gemeentes dit kan leer sing voordat die Reformasiefees aanbreek.
Die lied het vyf strofes, een vir elkeen van die Solas. Dit lui soos volg:
1.
Sola Scriptura! – God se Woord is deur die Gees geïnspireer.
Geen mensewoord, geen kerkgesag kan aan ons God se wil so leer.
Ons glo uit God se Woord vloei God se redding voort.
Hy openbaar sy wil en hoe ons dit vervul.
Sola Scriptura in sy Woord.
2.
Dis Sola Gratia! – net alleen genade wat ’n sondaar red.
Geen mens sal dit ooit kan verdien deur onderhouding van die wet.
Hoe hard ons self probeer, ons val maar telkens weer.
Geen mens uit eie krag kan redding ooit vermag –
net sy genade – ook vir my!
3.
Sola Fidei! Dis net geloof waardeur ons redding kan verkry.
Niks wat ons doen, niks wat ons gee, kan ons voor God regverdig maak.
Die Gees werk deur die Woord en bring geloof so voort;
genade word ons deel, gebrokenheid word heel;
dít deur geloof – Sola Fidei!
4.
Net Jesus Christus – Hy alleen kan vir ons intree as ons Heer.
Net Hy alleen betaal die prys – ons buig voor Hom, ons Voorspraak, neer.
Geen sonde wat ek doen sal Hy nie kan versoen.
Geen offer wat ek gee, maak ooit sy liefde meer.
Net Solus Christus! – Hy alleen.
5.
Ons eer U, Vader, as ons God wat deur die Woord in ons kom werk.
Ons prys u Naam, besing u Seun. U Gees maak van ons God se kerk.
Soos wat u Woord ons leer, besing ons keer op keer,
met eerbied en ontsag, die grootheid van u mag.
Sing: Soli Deo Gloria!