Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Die Here sal my nie los nie’

Die Here sal my nie los nie. Die Vader was nog net goed vir my.” Só sê Gerrie van Zyl (82), ’n boer wat met die onlangse brand in die Worcesterberge 60% van sy plaas verloor het. Dit is omtrent 80% van ons inkomste, sê hy.

Hy vertel: “’n Vrou het my eenuur Maandagmiddag, 8 Februarie, gebel en gevra of ons plaas in gevaar is. Teen twee-uur het die wind skielik gedraai en die brand het teen die berg af gekom. Teen vieruur was alles verby.”

“Byna alles het afgebrand,” voeg Van Zyl se kleinseun, Gerrie van Zyl (36), by. Hulle boer saam op die twee plase in Waaihoek omtrent 10 km buite Worcester. Die Van Zyls was ’n paar dae sonder krag en water omdat die elektrisiteit- en watersisteme in die brand verwoes is.

Hulle vertel hoe mense in die Breedevallei-omgewing na hulle uitgereik het. “Die nag van die brand was daar seker tagtig boere en hulle werksmense by ons op die plaas om te keer dat die plaas verder brand. Meeste van hulle het die hele nag gebly.”

Verder het hulle ondersteuning van verskeie maatskappye in die nabye omgewing soos Worcester en Stellenbosch ontvang, maar ook so ver soos die Oos-Kaap. Hulle het skenkings van voer, draad en staalpale ontvang. Eskom het hul kragdrade gratis vervang. Hulle is genader deur ’n maatskappy in die Oos-Kaap om sitrusbome aan te plant.

“Dis asof jy van beroep verander. Die een oomblik het jy nog hoofsaaklik ’n wingerdplaas en nou gaan ons net met sitrusvrugte aan,” sê die jonger Gerrie.

Gerrie van Zyl saam met een van sy spogperde. Hy kon sy perde verskuif voordat die stalle afgebrand het.
Gerrie van Zyl saam met een van sy spogperde. Hy kon sy perde verskuif voordat die stalle afgebrand het.

Dit is nie die eerste ramp wat Oom Gerrie tref nie. Die eerste wingerd is deur ’n wolkbreuk verwoes, die skorsies deur ’n wind weggewaai, die koring is deur ’n vloed weggespoel. Oom Gerrie is ook al ’n paar keer in die hoësorgeenheid weens hartkwale opgeneem.

Sulke terugslae beproef jou geloof, maar dis nie God wat ’n mens straf nie, vertel Oom Gerrie verder.

“Jy weet jy sal met ’n sterker geloof hier uitkom en weer opstaan. Die mense wat ons in die omgewing bystaan en ondersteun is net weer ’n bewys van hoe belangrik dit is om, soos Paulus praat, nie met ’n verdeelde koninkryk tevrede te wees nie. Jy kan nie op jou eie oorleef nie. Jy het mense rondom jou nodig. Hoe kan ’n mens nie weer opstaan as daar vir ons groen weivelde en waterstrome van rus en vrede belowe word nie? ’n Toekoms waar die leeu en die lam vreedsaam saam kan leef. Ek sien die Vader se hand in die klein voëltjies op die plaas. As ek moedeloos deur my boorde ry, luister ek net na die geluid van die voëltjies en dit bring weer hoop.”

Hy haal Habakuk 3:17 aan: “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.”

“Ek wil mense bemoedig met die woorde dat die Vader jou nie sal los nie. Dit maak nie saak hoe sleg dit rondom jou lyk nie. Jy sal weer opstaan en die Vader sal jou nooit los nie.”

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top