Ver meer as ’n miljoen liter water.
Dit is wat van heinde en verre na Winburg gestroom het nadat dié dorp in die Sentraal-Vrystaat se water weens die droogte opgeraak het.
Die nuus oor Winburg se nood is via sosiale media die wêreld ingestuur en spontaan het daar water begin kom, skryf ds Bertus Cilliers van die gemeente Rietfontein op Winburg. Daarmee saam is daar baie bale gras en lusern Winburg toe gebring.
Die water het opgedaag in enige iets van literbottels tot 25 liter-kanne en met tenkwaens. Digby tweehonderdduisend 5 liter-bottels met water is ontvang en versprei aan enigiemand in die gemeenskap wat dit nodig gehad het.
En op ’n manier is Winburg se storie ook die storie wat van oral oor in die NG Kerk in die Vrystaat gehoor word. Nie op so ’n groot skaal nie, maar die storie van mense wat mekaar help, wat vir mekaar sorg waar die droogte nood gebring het, dit kom telkens na vore in die terugvoer wat gemeentes in die Vrystaat oor hul belewenis van die droogte gegee het.
Trompsburg het bottels water ingesamel vir Senekal en Winburg. Estoire het ’n 5 000 liter-tenk opgesit om water vir die gemeenskap te voorsien. Odendaalsrus-Oos en Heuwelsig het hul lidmate aangemoedig om water na die projekte te bring. En so het talle ander gemeentes gehelp om water te besorg aan dié wat dit nodig het.
Reddersburg het ’n versamelpunt geword vir waterverspreiding deur die hele Suid-Vrystaat en dorpe suid van die Gariep.
Uit talle oorde was daar berigte van boere wat mekaar help met voer en weiding vir hulle diere.
Daar was gemeentes wat geldelike bydraes gemaak het tot die Droogterampfonds om daardeur te help.
Daarby het talle gemeentes projekte om mense in nood met kospakkies te help. Baie van hierdie projekte het lank voor die droogte reeds ontstaan, maar in baie gevalle het die behoefte ook as ’n direkte gevolg van die droogte al groter geword.
Een van die groot krisisse in die provinsie is dié van saaiboere wie se skuld al groter word en wat geen vooruitsigte op ’n oes vanjaar het nie. Dit bring ook mee dat hulle nie vanjaar tydelike werkers in diens sal neem om te help oes nie en dit beteken dat die armoede in die breër gemeenskap net al erger word.
’n Groot rol wat predikante en hulle gemeentes tydens die droogte speel, is om boere en ander mense in nood geestelik te ondersteun.
Daar is in samewerking met ander kerke biddae vir reën gereël en dankdae waar daar later wel reën geval het. Dominees besoek hulle lidmate, bid vir hulle en bemoedig hulle.
In party gemeentes in die Vrystaat word die droogte nie so erg gevoel nie. In ander het daar al verligting gekom danksy reën wat geval het. En dan is daar die gemeentes waar die nagevolge van die droogte nog baie lank gevoel gaan word.
Die kerk het tot dusver ’n groot rol gespeel om nood te verlig, maar dis ook duidelik dat daar nog baie gehelp sal moet word.