“’n Lig op die rif.” So sê een van die werkers wat kom aanmeld het by die NG gemeente Lynnwoodrif se Arbeidsentrum met die hoop om ’n werk as huiswerker te kry.
Die Arbeidsentrum verskaf geleentheid aan huiswerkers, kinderoppassers en tuiniers, om te kom aanmeld en dalk deur dié diens ’n werk te kan kry.
Dié diens is een van Lynnwoodrif-gemeente se bedieningspunte, waar die evangelie van Jesus Christus uitgeleef word midde-in die hoë werkloosheidsyfer in die land.
Die Arbeidsentrum funksioneer al die afgelope 30 jaar én het begin onder leiding van prof Piet Meiring. Sonder dat die diens wyd bemark word, het daar by ’n onlangse weeklikse ontmoeting op ’n Woensdagoggend 274 mense aangemeld vir hulp om werk te kry. Dié diens word ook 24/7 elektronies aangebied.
Dié sentrum versamel basiese inligting van elkeen wat aanmeld en dan kan iemand wat ’n huiswerker of tuinier benodig die sentrum besoek en dan ook self met die persoon of persone ’n onderhoud voer.
Behalwe vir dié diens wat die Arbeidsentrum verskaf, kry elkeen wat aanmeld ook in die oggend ’n koppie koffie of tee, ’n toebroodjie en dan woon hulle ’n erediens by, aangebied deur past Arthur Mahwayi in hul eie taal.
Blackie en Yvonne Swart is vir die afgelope jaar en ’n half die hooffasiliteerders van die Arbeidsentrum. Daar is ook ses vrywilligers wat help met die registrasie van werkers, om seker te maak dat elkeen wat na die Arbeidsentrum kom, gehelp word en dat sy of haar besonderhede op die datasisteem gelaai word.
Blackie hoop met sy hele hart dat elke persoon wat kom aanmeld, ’n werk iewers kan kry.
Die Arbeidsentrum is ook besig om te kyk of hulle kursusse kan aanbied, soos om te leer brei of hekel, lees en skryf en selfs kook. Oor die groot ontwikkeling is die Arbeidsentrum in gebed en vra na die wil van die Here én vir die regte persone om deel te word van die Arbeidsentrum.
Daar is in Januarie 17 plasings gedoen. Blackie meen dat dit nie na baie klink nie, maar vir elkeen wat geplaas word, maak dit ’n verskil. Sagaria 4:10 sluit hierby aan: “Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie.”
