Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Moderatuur bid vir troos en wysheid vir lidmate

Lidmate van die NG Kerk word nou, soos selde tevore, uitgedaag tot ’n nuwe verbintenis om Christus te volg.

So skryf die moderatuur van die Algemene Sinode in ’n brief aan lidmate van die kerk.

Die moderatuur wys op verskeie kwessies in die samelewing wat lidmate van die NG Kerk saam met ander Suid-Afrikaners onder druk plaas en moedig hulle dan aan om met fyn aanvoeling te onderskei wat God se roeping vandag is.

Die brief verwys na die groeiende spanning tussen dié wat het en dié wat niks het om te verloor nie. Dit stel besondere eise aan NG lidmate. Die modera-tuur sê hulle is dankbaar om deel van ’n kerk te wees wat die nood van mense aanspreek.

Hulle verwys na die sinodes se barmhartigheids­bydrae van meer as R1,2 miljard per jaar, maar sê nog groter is die bydraes van lidmate en gemeentes in hulle persoonlike roeping om dié wat swaarkry te help.

Daar is omtrent nie ’n lidmaat of gemeente wat nie gee sonder om terug te verwag nie, en dié hulp strek oor grense van taal en ras en agtergrond. Die NG Kerk het met sy lewe ’n dienende kerk geword en die mo-deratuur vra lidmate en gemeentes om juis nou daarmee voort te gaan.

Die moderatuur is egter bekommerd oor ’n kultuur van minagting en stereotipering wat in Suid-Afrika posvat, wat rassespanning laat toeneem en waarvan lidmate van die NG Kerk ook die teiken is. Daarby noem hulle plaasmoorde, grondeise wat draal en boere van hulle sekuriteit ontneem, die droogte en swak dienslewering.

Verder is daar die ontwrigting op universiteitskampusse, die kwessie van Afrikaans as onderrigtaal en die gebrek aan leierskap van die regering se kant af om die situasie te hanteer.

Teen dié agtergrond sê die moderatuur hulle begryp dat lidmate emosioneel swaarkry.

Die brief verwys na die Seisoen van Menswaardigheid waardeur die NG Kerk saam met die res van die NG Kerkfamilie wil help om respek tussen mense te herstel. Met die verbintenis tot selfprysgewende liefde wil die kerk ’n kragtige getuienis lewer oor die alternatiewe lewenstyl wat Christus vir sy volgelinge geleer het.

Die moderatuur wys daarop dat dit maklik kan gebeur dat mense in hierdie spanningsvolle tyd ook disrespekvol word, dat hulle hulleself afskei en geen verantwoordelikheid wil aanvaar vir die land en mense wat anders as jy is nie, dat hulle net blameer en veroordeel en geen bydrae maak tot geregtigheid in die land nie.

Die moderatuur glo egter die meeste van die NG Kerk se mense kies om ’n konstruktiewe bydrae te maak, om betrokke te bly by ander, om respekvol te bly on-geag wat van hulle gesê word, om hulle medemens te omarm en na hulle te luister, om lief te hê en om so in Christus se voetspore te volg.

Navolgers van Christus kies daagliks om anders te reageer as mense wat Hom nie ken nie.

Die moderatuur sê hulle bid dat die Heilige Gees elkeen sal troos wat seerkry as gevolg van disrespek en gebrek aan liefde van menseburgers. Hulle bid ook vir wysheid en ’n fyn aanvoeling met die oog op ’n Godvrugtige lewe.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top