Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Raslouw bring water vir Sannieshof

Met ’n konvooi van 24 voertuie, party met sleepwaens, het 48 lidmate van die NG gemeente Raslouw in Centurion op ’n Maandagoggend met byna 20 000 liter water die pad gevat Sannieshof toe.

Dr Dewyk Ungerer, een van Raslouw se vier predikante, sê dit het begin in een van die gemeente se omgeegroepe. Hulle moedig die omgeegroepe aan om betrokke te raak by projekte. Die gemeente se leuse is immers “Raslouw reik uit”.

Marius Nel, een van die lidmate, het gehoor van die waternood op Sannieshof en in die omgeegroep waartoe hy behoort daaroor gesels. Dit het gelei tot ’n versoek in die gemeente om water te bring.

Uiteindelik het hulle vier tenks van 1 000 liter elk volgemaak. Die res van die water het in bottels gekom. Daar was gesuiwerde water en kraanwater. Party mense het geld gegee en daarmee is nog water gekoop.

Daarmee is hulle Sannieshof toe.

Ds Johan Rademeyer van Sannieshof sê hulle dorp het nou al ’n lang geskiedenis van swak dienslewering. Saam met die droogte het dit nou tot ’n krisis gelei. Daar kom dae dat daar omtrent heeldag geen water in hulle krane is nie.

Hy het ’n boorgat, maar die grondwater is so met riool besoedel dat die boorgatwater ook nie in die huis gebruik kan word nie.

Die Raslouwers het by elke huis in die dorp 10 tot 20 liter water gaan aflewer. Daar is water oorgetap in groot watertenks waarvandaan dit versprei kan word. Ook in die swart woonbuurt Agisanang en die plakkerbuurt Pelindaba is daar water afgelewer. Die hospitaal, die oue­tehuis en kleuterskool het water gekry.

Rademeyer sê vir hulle is dit miskien die belangrikste om te besef dat daar ander gelowiges is wat omgee. Hy het “soveel liefde en entoesiasme” by die mense van Raslouw beleef. En vir die huishoudings het die water wat hulle gebring het, onmiddellike verligting gebring.

Ungerer sê vir hulle was die dag ’n eye-opener. Dit was lekker vir Raslouw se mense om te gee, om te beleef dat hulle ’n verskil maak, om te sien hoe hulle mense se gemoed lig.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top