Wit, bruin en swart studente, letterlik hand aan hand – op hulle gesig ’n glimlag vol medemenslikheid en lewensvreugde.
Dit was die alternatiewe moontlikheid vir rasseverhoudings wat studente van verskillende rasse en verskillende kerke saam gedemonstreer het tydens ’n geleentheid van die inisiatief United in Prayer wat by die NG gemeente Universiteitsoord in Pretoria aangebied is.
En hoe anders was dit nie as die tonele wat hulleself die vorige dag op die Tukkie-kampus afgespeel het nie. Toe het daar geweld uitgebreek tussen swart studente wat betoog het vir die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal en wit studente wat hulle reg om in Afrikaans klas te draf, wou verdedig.
So erg was die spanning by die universiteit dat die kampus ’n paar dae lank gesluit is.
Ds Jana de Lange, predikant van Universiteitsoord en fasiliteerder van die United in Prayer geleentheid, sê dat die kerk juis betrokke moet wees by hierdie gebeure en dat hulle leiding moet neem in die bou van eenheid en versoening.
En dit is wat die studente op eenvoudige wyse, sonder enige drama, gedemonstreer het – dat die evangelie ’n ander weg bied as haat en konfrontasie.