Die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) wil weer ‘n predikantekonferensie vir al die NG Kerk se predikante hou. Die gedagte is om dit van 3 tot 6 April 2017 by die NG kerk Moreletapark in Pretoria te doen.
Die vorige algemene predikantekonferensie is in 2005 in Bloemfontein gehou.
Die gedagte is dat ‘n viering sal wees van die onderlinge verbondenheid, maar ook om saam oor die kerk se missionale transformasie te gesels.
Die ASM wil egter so wyd as moontlik konsulteer oor die konferensie sodat predikante insette kan lewer oor hulle verwagtinge van so ‘n geleentheid. Daarom het die ASM die tien sinodes gevra om die saak in hulle geledere te bespreek sodat die terugvoer uit die sinodes in die beplanning in ag geneem kan word.
Hoe die finansies van die konferensie gaan werk, moet nog uitgewerk word. Daar word ook daaraan gedink om ander kerklike personeel soos jeugwerkers te betrek en om emeritus-predikante ook te nooi. Of dit gedoen kan word, sal onder meer afhang van die infrastruktuur (soos blyplek) wat beskikbaar is.
Teen September, wanneer die ASM weer vergader, behoort daar ‘n duideliker prentjie beskikbaar te wees van wat beplan word.
