Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Twee vra: hersien opskorting van besluite oor gays

Die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) van die NG Kerk het skriftelike kennis gekry van ‘n versoek om revisie van ‘n vorige besluit in verband met die opskorting van die uitvoering van die kerk se besluite oor gay verhoudings.

Volgens die Algemene Taakspan Regte (ATR) is die uitvoering van dié besluite outomaties kragtens die gemenereg opgesort omdat daar appèl aangeteken is daarteen. Die ATR het die ASM ook in November verlede jaar so geadviseer.

Die ASM het hierdie advies aanvaar en dit is hierdie besluit van die ASM wat dr André Bartlett en dr Carin van Schalkwyk wil laat hersien.

Hulle wou dit al by die pas afgelope vergadering van die ASM gedoen het, maar omdat daar nie betyds kennis gegee is en die saak nie in die agenda opgeneem is nie, kon dit nie gehanteer word nie.

‘n Kernargument van die regsadvies waarop hulle steun, is dat die Kerkorde bepaal dat daar na ‘n meerdere vergadering geappelleer kan word teen ‘n besluit. In die kerk is daar egter nie ‘n meerdere vergadering vir die Algemene Sinode nie. Daarom, lui die argument, kan daar nie teen ‘n besluit van die Algemene Sinode geappelleer word nie.

Volgens die betrokke reglement kan daar wel teen ‘n besluit van die Algemene Sinode geappelleer word na die volgende Algemene Sinode toe, maar volgens hierdie regsadvies is dit in stryd met die Kerkorde en daarom is dit ongeldig.

Die regsopinies wat die ATR ingewin het, verskil hiervan.

Die ASM moet nou by sy volgende vergadering in September die aansoek om revisie hanteer.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top