Prof Hermie van Zyl van die Universiteit van die Vrystaat het onlangs die ds Pieter van Drimmelenmedalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang vir sy bydrae tot Afrikaanse Bybelvertaling.
Van Zyl was 29 jaar lank betrokke by die opleiding van NG predikante aan die Universiteit van die Vrystaat. Onder sy hand het menige studente geleer hoe om die Nuwe Testament te verstaan en ʼn preek daaruit te maak. Sy belangstellingsveld is die sinoptiese evangelies.
Buite die formele akademie neem hy ook deel aan Bybelvertalingsprojekte. Hy was betrokke by ʼn wêreldeerste – ʼn volledige Bybel vir Afrikaanssprekende Dowes, vertaal uit Hebreeus en Grieks. Hy was ook deel van ander vertalingsprojekte, onder andere die direkte vertaling van die Bybel en die Verwysingsbybel.
Dit is juis Van Zyl se betrokkenheid by Bybelvertaling wat hom die hoog aangeskrewe medalje van die Akademie besorg het. Hy is die eerste dosent aan die Universiteit van die Vrystaat se Fakulteit Teologie wat ʼn toekenning van die Akademie ontvang.
Hoewel hy reeds in 2013 geëmeriteer het, is hy steeds betrokke in die akademie en by Bybelvertaling. Hy is ʼn navorsingsgenoot in die Departement Nuwe Testament aan die Universiteit van die Vrystaat en gee nog by geleentheid klas.
