Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Wayne Renkin aan die woord tydens die Opstandingsdiens in Johannesburg se middestad. Foto: Ernst Muller

’Hulle vat jou nes jy is’

Dit is Opstandingsondag in Doornfontein. Uit die middestad is ’n kleurryke versameling mense byeen vir ’n erediens van die NG gemeente Johannesburg.

“Waarom behoort jy juis aan hierdie gemeente?” vra ek vir een van die dames ná die diens. “Dis die vriendelikheid,” antwoord sy sonder aarseling. “Die mense is so verwelkomend. Hulle vat jou nes jy is.” Die hartlike gasvryheid is iets wat ons as besoekers onmiddellik self ervaar.

Die NG gemeente Johannesburg is in 1887 gevestig. Talle dogtergemeentes het mettertyd afgestig, maar later, toe die gesig van die stad dramaties verander het, het sommige weer met haar verenig. Talle bekende kerkleiers het in dié gemeentes gedien. Dit is ’n deurmekaar geskiedenis, eie aan die stad waarin dit geleë is, maar ook die verhaal van ’n gemeente wat, ten spyte van baie trauma en teenslae, aanhou aanpas en bly dien het.

Eredienste word gehou in die Irene-kerk wat eens die trotse tuiste van die gemeente Johannesburg-Oos was. Dié eens statige, nou verwaarloosde struktuur, wat uit 1972 dateer, behoort egter nie meer aan die kerk nie. Dit het intussen deel geword van Universiteit van Johannesburg se immer-groeiende stadskampus, maar word aan die NG Kerk én ander kerkgroepe beskikbaar gestel. Die Reformed Church in Zimbabwe en ’n charis­matiese Afrika-kerk aanbid ook daar.

Maar, selfs sonder haar eie gebou of ’n voltydse leraar, floreer die gemeente. Anders as by die meeste gemeentes, is die aantal lidmate “op die boeke” veel minder as die 200-300 persone wat normaalweg op Sondae die eredienste bywoon.

Die rondstap-en-groettyd aan die begin van die diens duur ’n goeie tien minute.

Erediensgangers sing hartlik saam in Engels, Zoeloe, Afrikaans en ander tale, onder begeleiding van een van Johannesburg se grootste pyporrels. Daar is lewendige reaksie op die dominee se besprekingsvrae. Die liturgie en prediking vind in Engels plaas.

Maar dit gaan om méér as net nog ’n Sondagerediens. Sommige hawelose besoekers benut die tyd om rustig in dié veilige ruimte te slaap, en ná die tyd die vuil van die stad in die storte af te spoel.

Die deeltydse leraar, ds Wayne Renkin, praat oor die betekenis van die opstanding en hoe gelowiges dit prakties gaan uitleef.

Sy boodskap vir die middestadsmense is op Paasfees, soos in die res van die jaar, nie nét een van troos en bemoediging nie, maar ook ’n oproep om ’n verskil in jou eie kring te maak, ongeag hoe arm of teenspoedig jy is. Daar is altyd iemand wat by jou liefde kan baat.

Lidmate vergader ook in die week in Bybelstudie-groepe, en daar is ’n voedselhulpprogram.

Die demografie is dié van sentrale Johannesburg, verteenwoordigend van volksgroepe van oral oor Afrika. Daar is ook ’n stewige span bruin lidmate – en ’n handjievol Afrikaners wat aangebly het.

Renkin bedien hierdie gemeenskap in die Goudstad oor naweke, maar werk gedurende die week as koördineerder van Akanani, die Tshwane Leadership Foundation se aksie vir hawelose persone in Pretoria, sowel as UP se Sentrum vir Kontekstuele Bediening en is ook betrokke by The Institute for the Healing of Memories – ’n veelvoudige eietydse bedieningstyl vir eietydse omstandighede.

“Daar is mense wat verbaas is oor die gemeente se ongewone karakter, maar behoort dít nie juis die normale gesig van kontekstuele geloofsgemeenskappe te wees nie,” vra Renkin. “Dié van gereformeerde gemeentes wat aanhou reformeer in antwoord op die behoeftes van die tyd?”

Van hierdie 130-jaar oue gemeente is dit beslis waar – ’n hawelose gemeente wat ’n gasvrye toevlugsoord vir hawelose mense bied.

▶ Lees meer oor die NG gemeente Johannesburg se geskiedenis en bediening deur hierdie en hierdie skakel te volg.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top