Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Die NG Kerk: Nuwe struktuur en kultuur


Daar is menings in die NG Kerk dat die Algemene Sinode se strukture aangepas moet word. Trouens, die Sinode van Wes-Transvaal het in 2015 besluit dat hulle gaan ondersoek instel na die strukture van die sinodale kerkverband. In die Namibiese Sinode is daar reeds die afgelope paar jaar die behoefte om meer “selfstandig” te funksioneer met die oog op die rol van die kerk in Namibië.

Die Algemene Sinode het verlede jaar op versoek van die NG Kerk Wes-Kaapland dit goedgekeur dat sinodes afsonderlik meer belydenisskrifte kan aanvaar. Dit is baie duidelik dat daar diverse behoeftes binne die NG Kerk is en dat ons ’n deeglike gesprek moet hê oor die regte strukture om hierdie verskeidenheid van behoeftes en standpunte te akkommodeer. Trouens, die moderamen het hier-die gesprek een van sy twee prioriteite van die termyn gemaak.

Liggaam van Christus: Ons is aan mekaar verbonde as gemeentes en sinodes omdat ons glo dat die eenheid van die kerk ’n belangrike Bybelse opdrag is. Trouens, Jesus leer ons dat die eenheid van die kerk ’n kragtige getuienis lewer. Met ons eenheid getuig ons van die veranderende krag van die Heilige Gees en van die liefde van Christus, dat sy liefde ’n mens so kan verander dat jy saam die liggaam van Christus kan vorm, ongeag onderlinge verskille.

Struktuur van die Algemene Sinode: Die wesenlike vraag behoort dus nooit te wees of ons aan mekaar verbonde moet bly nie, maar hoe die verbintenis aan mekaar die beste sal getuig van die veranderende krag van die Heilige Gees en van Christus se liefde. ’n Taakspan van die moderamen gaan nou onder meer besin oor die grootte van die sinode, oor die frekwensie van sy vergaderings en oor sinodes se deelname aan die besluitnemingsprosesse. Voorstelle sal vir kommentaar aan die onderskeie sinodes se strukture aangebied word voordat dit voorgelê word vir goedkeuring.

Kultuur: Dit is egter duidelik dat ons nie net oor ons strukture moet praat nie, maar ook oor die kultuur van die Algemene Sinode, dit wil sê die gewoontes wat ons oor die afgelope dekades aangeleer en geïnstitusionaliseer het. Die moderamen het tydens sy afgelope vergadering hieroor begin dink en besluite geneem om plek-plek die kultuur te verander.

Insluiting en deelname: Die moderamen oordeel dat daar meer insluitend of deelnemend te werk gegaan moet word. Hierdie benadering moet onder meer geld vir die vorming van die agenda van die Algemene Sinode se vergaderings. Sinodes, kerkrade en ringe gaan gevra word om saam te dink oor dié sake wat op die agenda van 2017 se Algemene Sinode moet wees. Wanneer almal se insette verkry is, gaan die moderamen in ’n onderskeidingsproses die vyf of ses sake identifiseer waaroor die kerk wil praat.

e-Kerkbode: Daar is ook goed gedink oor ons kommunikasie met ons lidmate. Daar is saam met Bybel-Media besluit om ’n e-Kerkbode te loods. Die aand nadat die besluit deur die moderamen geneem is, het die eerste uitgawe verskyn en kon ons self ons nuus breek. Die NG Kerk kan nou op ’n daaglikse basis nuus vrystel. Ons is hiervoor baie dank aan Bybel-Media verskuldig. Almal kan byvoorbeeld nou elektronies op e-Kerkbode inteken en e-Kerkbode se nuus op facebook deel met vriende. Hierdie is ’n reusestap in die rigting van meer effektiewe kommunikasie.

Inligting aan leraars: Die moderamen het ook goedgekeur dat ons, wanneer nodig, vanuit die kantoor van die Algemene Sekretaris ’n inligtingsbrief aan al die leraars van die kerk stuur. Die bedoeling is om alle kollegas betyds in te lig oor verwikkelinge op die nasionale kerklike toneel, sodat hulle met korrekte inligting hulle gemeentes kan begelei.

Predikantebyeenkoms: Die moderamen het ook besluit om volgende jaar ’n nasionale predikantebyeenkoms in Pretoria by Moreletapark te hou. Ons werk deelnemend deur sinodes se insette te vra met betrekking tot die inhoud van die program. Die strategie vir die gestuurdheid van die kerk sal onder meer op die agenda wees.

Die Suid-Afrika en Namibië waarvoor ons bid: Die moderamen ontsluit eersdaags ’n proses waarin alle sinodes versoek word om saam te dink oor die land waarvoor ons bid. Gespreksraamwerke sal beskikbaar gestel word vir gebruik deur kleingroepe, kerkrade, ringe en ander strukture. Uiteindelik sal die terugvoer verwerk en voorgelê word aan die volgende Algemene Sinode vergadering. Dit word in oorleg en in samehang met die SA Raad van Kerke se inisiatief in hierdie verband gedoen. Die nuwe kultuur van deelname word in werking gestel om ’n raamwerk vir die NG Kerk se publieke getuienis te skep. Die NG Kerk se deelname aan nasionale gesprekke oor die toekoms van ons lande kan ’n baie groot verskil maak.

Missionaliteit: Die moderamen vorder ook goed met sy strategie vir missionale transformasie. Ons behoort na September hieroor volledig te kan terugvoer gee.

Mag Christus, ons hoof, ons ruim gebruik om sy koninkryk te laat kom.

 

Vriende van Kerkbode

Ondersteun Kerkbode, die amptelike blad van die NG Kerk – én die oudste bestaande Afrikaanse blad in Suid-Afrika – ter wille van betroubare nuus in die kerkgemeenskap…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top