Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Pinkster: God se Gees kry ’n nuwe tuiste

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die Joodse geloof was ten tye van Jesus se bediening ten nouste verweef met godsdienstige feeste.

Drie daarvan, die Paasfees, Loofhuttefees en Pinkster was pelgrimsfeeste waartydens die Jode na Jerusalem gereis het om saam fees te vier soos vereis deur die wet (Eks 34:23). In die Evangelies neem Jesus se ouers (Luk 2:41) en Jesus (veral in Johannes) deel aan verskeie feeste.

Daar word egter nêrens vermeld dat Jesus Pinkster gevier het nie. Die naam daarvan (Grieks pentēkostē wat beteken “vyftigste”) dui op die viering daarvan op die 50ste dag na die begin van die oes, toe die eerste gars wat geoes is na die tempel as ’n offer op die Sabbat gebring is (Lev 23:9-13). Vanweë die berekening val Pinkster altyd op ’n Sondag.

Die fees het slegs ’n enkele dag geduur en God as gewer van die oes gedank. Dit het begin met die offer van twee brode wat gebak is met gesuurde deug afkomstig van die meel van die nuwe oes en het afgesluit met
’n offermaaltyd waarna die armes spesifiek genooi is (Deut 16:9-12).

In die Nuwe Testament word Pinkster drie maal vermeld. Twee verwysings (1 Kor 16:8; Hand 20:16) dien as tydsaanduidings rakende Paulus se reisplanne. Die derde is na die besondere Pinksterdag toe die Heilige Gees uitgestort is (Hand 2:1).

In Handelinge 2:17-21 verstaan Petrus nie die uitstorting van die Gees as ’n vervulling van Pinkster nie (Paulus vier dit steeds as ’n oesfees in Jerusalem) maar eerder van Joël 2:28-32 waarin voorspel is wat in die laaste dae sou gebeur.

Die Gees sou uitgestort word op alle gelowiges en nie net soos in die Ou Testament op konings en profete nie. Gelowiges se optrede as profete is waarskynlik ’n verwysing daarna dat hulle oor Jesus sou getuig deur die krag van die Gees.

Dit wil dus voorkom asof die keuse van Pinksterdag vir die koms van die Gees verband hou met die feit dat die hele Israel byeen was. Die Gees kom naamlik op alle gelowiges ondanks hulle herkoms ten aanskoue van die hele volk as ’n publieke bevestiging dat die belofte van Joël vervul is.

Die Gees van God het nou ’n nuwe tuiste gehad – die kerk bestaande uit alle gelowiges. God se trou sou dan ook in Handelinge sigbaar raak in ’n ander oes wat gereed was om ingesamel te word.

▶ Dr Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top