“Bra Tertius’ weet nie hoe groot sy impak is nie.”
Aan die woord is Amos Ngalimani, lidmaat van die NG gemeente Somerstrand in Port Elizabeth en leiersfiguur op die kampus van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU). Die “Bra Tertius” na wie hy verwys, is dr Tertius Delport, oudminister, regsman en akademikus, en ook lidmaat by Somerstrand.
Saam is die twee onwaarskynlike maar effektiewe spanmaats in die gratis werkwinkels oor leierskap wat Somerstrand sedert 2015 vir studente van die NMMU aanbied.

Ngalimani is ’n toonbeeld daarvan dat alle studente-aktiviste nie opruiende jong mans met rooi berets en gebalde vuiste is nie. Sy stem en sy oë is sag. Sy woorde weldeurdag. Gedagtes georden. Sy gees is vol genade, soos dié van Christus.
Hy kies om lidmaat by Somerstrand te wees. Vir hom is dit deel van sy lewensreis: Om die mensdom omvattend te ervaar, nie slegs vanuit sy eie kultuurgroep nie. Dit is vir hom ’n “delight, not a duty” om aan Christus gehoorsaam te leef.
Ds Rethie van Niekerk sê Amos laat hulle gemeente geliefd voel.
Hy is 38. Getroud. Pa van ’n peuterseuntjie. Hy studeer BAdmin by die NMMU en doen gelyktydig sy LLB deur Unisa. Hy maak seker ek verstaan: Hy praat nié namens #feesmustfall nié. Tog benadruk hy die noodsaak: Studente móét práát: “If we don’t raise our voices now, history will judge us.”
Amos praat oor “the benefits of belonging”; oor Christenskap as leefstyl, “not a mere ideology”. Oor die belangrikheid van Christene se praktiese deelname, hulle sosiale betrokkenheid in Suid-Afrika – “not just praying”.
Hy verduidelik sommige oorsake van kampusonrus: Te veel studente se lewensomstandighede strem hulle vermoë om te leer. Hulle is so arm, het so min! Amos beywer hom daarvoor dat hulle genoeg en gesond kan eet, warm en droog kan slaap. Vir universiteit-administrasie wat hulle tegemoetkom …
Hy pleit vir studies wat hulle leefwêreld en realiteite verreken. “Dit is uiters belangrik,” sê hy, “as ons goeie leiers hier wil oplei.”
“Bra Tertius” is vir hom ’n vaderfiguur, ’n navolgenswaardige mentor. Hy bied dele van die werkwinkels oor leierskap aan. Maar nie as teoretiese of akademiese konsepte nie.
“Ek vertel my verhaal,” verduidelik Delport. “Ek deel die lewenservaring wat vir mý meer wysheid gebring het … Sommer plat op die aarde. Onthou ek het met beesmis tussen die tone grootgeword.”
Só illustreer hy die waarde van lojaliteit, onderskeiding, spanwerk, objektiwiteit, wedersydse respek. Dat ’n mens mag bevraagteken, dit behoort te doen. Dat geykte waarhede nie noodwendig die aller- of alleenwaarheid is nie.
Die NMMU-studente het “courageous conversations” op kampus. Amos sê hulle pas die beginsels wat hulle in die werkwinkels leer daar toe – met goeie gevolg. Hulle gesindheid, gedrag en moraal bewys die deurslaggewende, rigtinggewende waarde daarvan.
Die kampus was vanjaar heelwat rustiger en minder ontwrig as ander kampusse in Suid-Afrika.
Somerstrand het met die werkwinkels ’n spasie geskep waar mense mekaar kan leer ken. Ds Rethie sê: “ ’n Mens wil soveel vrae vra. Maar vir nou kies ek om waarderend te wees. Om te onderstreep dat die ou Afrikanerleiers vandag steeds ’n reuse-impak kan hê. Dat bedieninge wat inklusief is, genesing bring.”