“Ek was totaal stomgeslaan,” het dr Pieter Fourie, uitvoerende hoof van Bybel-Media, gesê toe die Cordis Trust hom vereer het met die Orde van die Lamp.
Dit is ’n prys wat die Cordis Trust van tyd tot tyd toeken aan mense wat ’n besonderse bydrae lewer tot die uitdra van die boodskap van hoop. Die toekenning is gedoen saam met die oorhandiging van die Bybel-Media-Cordis Trust-pryse vir twee Christelike boeke.
Fourie het gesê as ’n mens net jou werk gedoen het en iemand kom dan en sê dankie, is dit lekker. So iets is egter net moontlik “danksy die oulike mense van Bybel-Media”. Daarom dat hy ’n deel van sy prysgeld van R5 000 teruggee aan Bybel-Media.
By dieselfde geleentheid het dr Chris van Wyk, moderator van die Oos-Kaapse Sinode, die Bybel-Media-Cordis Trust-prys gekry vir ’n bydrae tot ’n spesiale projek met ’n Bybel-Media-verbintenis.
Die oorkonde wat aan hom oorhandig is, sê Van Wyk het hom oor jare “as een van die mees produktiewe en kreatiewe medewerkers aan spesiale projekte by Bybel-Media betoon”. Daardeur het hy ’n diens aan die hele NG Kerk en wyer gelewer.
Van dié bydraes was as koördineerder van die Gemeentedienste-Netwerk, samesteller van Kruisgewys-artikels, en as ontwikkelaar van produkte vir die Seisoen van Luister en die Seisoen van Menswaardigheid.
Hy was ook skrywer of medeskrywer van boeke soos Loop saam, Die vrou by die put, Gevorm deur die kruis en die God praat – Leef luisterryk-reeks.