Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Leonardi Stoop op die Durbanse strand. Haar mikpunt is ’n vars, nuwe vorm van kerkwees wat jongmense bereik wat nie deur die tradisionele bedienings gelok word nie. Foto: Neels Jackson

’n Vars bries waai deur Durban


Daar is vars briesie wat deur Durban trek – en dit is nie net die seewind nie. Haar naam is Leonardi Stoop, die jong dominee wat deur die NG gemeente Krantzkloof beroep is vir ’n bediening buite die kerk.

Dr Barry Tolmay, haar senior kollega en mentor, sê dominees wil almal hê dat mense Sondae kerk toe kom. Toe hy van 2001 tot 2004 in die Verenigde Koninkryk was, het hy besef kerkgeboue word daar deur spinnerakke en tradisie bymekaargehou.

Dis toe dat hy verstaan het dat die kerk voortaan totaal anders te werk sal moet gaan. Destyds het hy daar selfs ’n bediening in ’n koffiewinkel gehad.

’n Belangrike koersaanduider vir die pad vorentoe in Durban is die Fresh Expressions-beweging. Dit het by die Anglikaanse Kerk in Engeland begin en het nou al na talle lande versprei, waar nuwe geloofsgemeenskappe buite kerke byvoorbeeld tussen branderplankryers gevorm is.

In Suid-Afrika is die NG Kerk, die Anglikane, Metodiste, Presbiteriane en Lutherane by Fresh Expressions betrokke. Met die NG Kerk aan die spits en die steun van ander kerke in Durban is daar besluit om vir Leonardi te beroep met die oog op so ’n bediening.

Leonardi het in Durban grootgeword en in Bloemfontein gaan studeer.

Maar daar was ook ander dinge wat haar vir hierdie bediening help voorberei het. Sy is byvoorbeeld lief vir perdry, en in hierdie wêreld het sy mense leer ken wat nooit in ’n kerk kom nie.

Sy het geleer om met sulke mense vriendskappe te smee sonder bymotiewe, sonder om sulke vriende onder druk te plaas om kerk toe te gaan.

As student het sy by ’n dwelmrehabilitasiesentrum gehelp. Daar het sy geleer om eenvoudig vir iemand te vra: “Kan ek vir jou bid?”

Sy sien haar rol om eenvoudig waar sy is mense te bedien met haar gawes en talente. “Jy hoef nie ’n superhero in ’n wet suit te wees nie,” sê Leonardi.

Hulle het begin deur ’n groepie jongmense bymekaar te kry wat saam bergfiets ry. Dit is die 18- tot 30-jariges wat hulle wil bereik. Dié groep wat nie opgewonde raak oor die kerk se tradisionele bediening nie.

Sondagoggende, as die kerke eredienste hou, dan is dié jongmense in die buitelug. En dis daar waar Leonardi, met die ondersteuning van jong volwassenes uit die gemeente, hulle vars uitdrukking van kerkwees tot stand wil bring.

Hulle dink ook aan ’n multikulturele, Engelstalige bediening in ’n koffiewinkel. Sy vertel dat sy vriende gemaak het met die eienaars van ’n plek waar sy gereeld gaan koffie drink. Toe sy bevestig is as dominee, was dié nuwe vriende daar.

Tolmay sê die mikpunt is om ’n geloofsgemeenskap te vorm wat nie soos ’n NG gemeente mag lyk nie. Die NG Kerk wil ’n ondersteunende rol speel sonder om mense in die NG Kerk in te dwing.

Die bediening moet spontaan ontwikkel soos God wil hê dit moet gebeur.

Leonardi is opgewonde oor haar rol. Sy is lief vir die kerk, maar ’n tradisionele bediening sou haar frustreer, sê sy. Dat sy nou al soveel buddies buite die kerk het, is vir haar super-cool.

Maar dis ook senutergend, want daar is geen gebruikershandleiding vir wat sy doen nie. Daar is geen padkaart vir waar sy gaan nie. Voor haar is net ’n skoon doek.

Die sleutel is om dié avontuur biddend, op die knieë voor die Here, aan te pak.

Met haar ondersteunersnetwerk om haar te dra, is sy reg vir wat wag.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.