Hoe kan die kerk help om die evangelie te bring op ’n manier wat ook gemeenskappe soos dié in Gugulethu op die Kaapse Vlakte raak? Alpha meen dat hulle met hul nuwe Alpha-filmreeks ’n instrument het wat dit kan doen. Fanie Heyns berig.
Die kerk in Suid-Afrika funksioneer te veel in silo’s, elkeen met sy eie program. Verenig, en moenie oorweldig wees (deur die status quo) nie. Doen net een ding op ’n vreeslose, egte manier en met oortuiging, is Thabo Makgoba, Anglikaanse Aartsbiskop van Kaapstad, se mening oor die stand van sake in die land.
Makgoba het onlangs banieropskrifte gehaal toe hy ’n nuwe inisiatief begin het om sosiale en ekonomiese inploffing te verhinder. Die oogmerke van die inisiatief, bekend as die Sosiale en Ekonomiese Toekoms van Suid-Afrika, is om geloof en optimisme in die land te herstel. Daar moet ook getimmer word aan ’n omvattende strategie om die krisis te bestuur, het Makgoba verklaar.
Volgens Makgoba is Alpha (die evangelisasiekursus van voorkeur van talle kerkdenominasies – dit word ook in die NG Kerk gebruik) ’n betekenisvolle profetiese stem wat kan help om die sosiaal-ekonomiese toekoms van die land te verseker.
Alpha het in 1990 begin toe Nicky Gumbel, die pionier, die kursus opgestel het. Hy is ’n voormalige ateïs wat die evangelie eers afgemaak het as vervelig, nie-relevant en onwaar voordat hy kragdadig tot bekering gekom en Alpha begin het.
Sedertdien is 29 miljoen mense in 169 lande ter wêreld met Alpha bereik.
Basiese waarhede
Gevra na die impak van Alpha op die sosiale en ekonomiese toekoms van Suid-Afrika, het Makgoba verduidelik dat besprekings om die basiese waarhede van die Christelike geloof bekend te stel, ’n belangrike rol kan speel om onbeskaamde Christelike beginsels vir sakelui te voorsien.
“In ’n land waarin daar grootskaalse onderwysuitdagings en behoeftes bestaan, is daar 23 000 kinders wat in Limpopo skoolgaan, maar daar is net een toilet. In so ’n omgewing kan Alpha die Bybelse rug-steun en raamwerk oor God verstrek,” het hy bygevoeg.
“Sonder ’n profetiese stem kan sakelui koers verloor.”
Makgoba is bekommerd dat Alpha in die verlede dalk te veel van ’n Europese kleed aangetrek het en nie genoeg in die Afrika-konteks die diepste verlangens van ’n taxi-bestuurder in Gugulethu of ’n werker in Khayelitsha aanspreek nie.

Siviwe Minyi, predikant van die Khanyisa-gemeenskapskerk in Gugulethu, het egter die vrese daaroor besweer.
Hy het gesê die nuwe Alpha-filmreeks wat op 14 April bekend gestel is, sal baie beslis ’n konteks verskaf. Daar is ’n swart aanbieder wat ’n bekende TV-persoonlikheid is, Gemma Hunt, en die dinamiese wyse waarop die reeks verpak is, sal baie doen om die evangelie wye inslag te laat vind.
Selfs voor die Alpha-filmreeks het hy op Vrydae in die Khanyisa-gemeenskapskerk ’n Alpha-reeks aangebied en hy het aan die gehoor moeilike woorde in Engels, Afrikaans en Xhosa verduidelik.
Versoening
Daardie gebied is bekend vir sy historiese verdeeldheid tussen Manenberg en Gugulethu, en Alpha het baie gedoen om versoening te versterk tussen Afrikaans-, Engels- en Xhosasprekendes, het hy bygevoeg.
Sam Uys, direkteur van Alpha in KwaZulu-Natal, het gesê die Alpha-filmreeks is ’n goeie hulpbron vir die kerk om te gebruik. Die relevante en meesleurende wyse waarop die inhoud van die evangelie oorgedra word, sal mense aanraak, ongeag hul ras, kultuur of uit watter generasie hulle kom.
Luba Mayekiso, ’n streeksraadslid van Alpha, het gesê Suid-Afrikaners van die ouderdom 20 tot 40 praat ’n gemeenskaplike, universele taal. Hulle trek dieselfde soort klere aan, hulle gebruik dieselfde slang of streektaal, en luister na dieselfde musiek. Jy sien dit wanneer hulle na die Waterfront, Cavendish, Canal Walk of ’n food court gaan.
“Jy het nodig om die evangelie te verpak op ’n aantreklike, dinamiese en innoverende wyse, deur die sosiale media te gebruik om tot jongmense deur te dring.
Dis cool
“Hierdie Alpha-filmreeks is cool. Dis iets wat my 21-jarige dogter interessant sal vind en sal wil volg,” het hy byge-voeg oor die 16-episode-reeks van 30 minute elk wat in 12 lande verfilm is.
Alpha bied aan skeptici, soekers, agnostici, ateïste en kerklidmate ’n geleentheid om deur sessies oor die abc van die evangelie oor ’n aandete vrae te vra oor die lotsbepalende keuses van die lewe.
Die voorganger van die Alpha-filmreeks het in Suid-Afrika 309 000 luisteraars gelok en transformasie gebring in talle gemeenskappe.
Dit het in Londen daartoe bygedra dat kerkbywoning die afgelope drie jaar verbeter het.
Tricia Neill, direkteur van Alpha-internasionaal, beskryf die Alpha-filmreeks as die mees betekenisvolle oomblik in die geskiedenis van die beweging.
“Dis die aanbreek van ’n nuwe daeraad,” het Nelinha van der Walt, direkteur van Alpha in Afrika, verklaar.
Tarynne Willis, bedryfsbestuurder van Alpha Suid-Afrika, is opgewonde daaroor dat die Alpha-filmreeks tot die harte en gedagtes van jong- en oumense gaan spreek.
“Daar is onderhoude gevoer met mense uit alle vlakke van die bevolking en ek meen dit sal tot alle kulture en gemeenskappe asook geslagte spreek,” het sy bygevoeg.
“Ons het wetenskaplikes, TV-sterre en godsdienstige leiers wat sleutelvrae beantwoord en dit baie relevant maak,” het sy gesê.