Koerantpapier en plastiek, sterk kleefband (duct tape), krammetjies – en ’n goeie dosis Christelike deernis vir armes.
Daarmee kan ’n mens ’n goedkoop, doeltreffende en praktiese slaapsak maak waarin ’n hawelose in die koue, nat Kaapse winter droog en warm kan slaap.
Presies hoe ’n mens dit doen, het mnr Harold Abrahams van Mes Kaapstad vir die NG gemeente La Rochelle in Bellville gaan wys. Van kleuters tot volwassenes het op ’n Sondagoggend ’n demonstrasie in slaapsakmaak bygewoon en daarna sommer self gou ’n klomp van hierdie slaapsakke gemaak.
Abrahams, wat al lank by Mes in Kaapstad werk en baie met straatmense te doen het, sê dié slaapsakke is die gevolg van ’n droom wat die Here op sy hart gelê het om die straatmense deur die koue Kaapse winters te help om warm en droog te slaap.

’n Mens het groot koerantbladsye nodig, soos dié van Die Burger of Rapport of die Argus, sê Abrahams. Klein koerantjies werk nie. ’n Gemeente wat sulke slaapsakke wil maak, kan dié koerantpapier sommer self bymekaarmaak. Die regte plastiek wat nodig is, kan hulle deur Mes aankoop.
Om die slaapsakke te maak, is maklik. Van vyfuur die middag tot sewe-uur die aand maak hy sommer 50 slaapsakke, sê Abrahams.
Gemeentes wat sulke slaapsakke wil uitdeel, kan dit teen R20 elk by Mes koop, of hulle kan hom kontak en dan kom doen hy vir hulle ’n demonstrasie om die slaapsakke self te maak.
Dié tuisgemaakte slaapsakke het hulself al deur vorige Kaapse winters bewys, sê Abrahams. ’n Mens kan ’n kombers daarin sit en saam met jou kombers droog bly en warm slaap.
Die slaapsak kan ook op verskillende maniere opgevou word. “Dan staan jy op en jy tel jou bed op en jy loop,” sê Abrahams.
As ’n mens die slaapsakke maak, kan jy ook ’n boodskap van hoop daarop sit, sê hy.
Dit het La Rochelle se lidmate met oorgawe gedoen. Kinders het prentjies geteken, daar is boodskappe geskryf en dit is op die koerantpapier en onder die plastiek vasgeplak sodat dit maklik gelees kan word.

’n Ander belangrike voordeel van hierdie slaapsak, is dat die kans baie groter is dat straatmense dit sal gebruik waarvoor dit bedoel is, as wanneer ’n mens vir hom/haar ’n duur gekoopte slaapsak gee. Omdat die slaapsak so goedkoop is, kan dit nie so maklik verkoop word om geld te kry vir iets anders nie.
Boonop is die duur slaapsakke nie so waterdig soos Mes se slaapsakke met die plastiek om nie.
Dr Elsje Büchner van La Rochelle sê ’n mens kan ’n paar sulke slaapsakke in jou huis hou. As daar dan ’n straatmens kom aanklop om hulp, dan is dit iets wat jy vir so iemand kan gee wat regtig ’n verskil maak.
Dis ook ’n lekker aktiwiteit vir ’n gesin of ’n kleingroep om saam ’n klompie slaapsakke te maak.
▶ Mnr Harold Abrahams kan gekontak word by 071 599 2659 of 021 949 8736.