“Almal is verras oor hoeveel energie daar is.”
So het ds Fouché de Wet, voorsitter van die onlangse Jeugindaba, gesê na afloop van hul vergadering in Pretoria.
Die Jeugindaba het vir die eerste keer in ’n geruime tyd mense wat oor ’n wye front by jeugwerk in die NG Kerk betrokke is, bymekaargebring. Daar was verteenwoordigers van die taakspanne oor kategese, belydenis en geloofsvorming, en navorsing. Daar was ook organiseerders van die #imagine-beweging en verteenwoordigers van die onderskeie sinodes.
De Wet sê al die taakspanne het terugvoer oor hul werk gegee en die byeenkoms kon ’n goeie oorhoofse prentjie kry van wat in die kerk gebeur – en daar gebeur ’n klomp goeie dinge op ’n klomp plekke. Almal was verras oor wat dit alles behels.
Die Jeugindaba se taak is om te koördineer “om mekaar sterker te maak”, maar ook om te help sorg dat die jeugwerk inskakel by die breër visie van missionale kerkwees.
Daar is byvoorbeeld gesels oor toerusting, wat insluit ouerleiding en dat geloofsvorming deel is van ’n proses van lewenslange leer.
Nog ’n aspek waaroor daar heelwat gesels is, is die bediening in skole. Daarvoor word daar nou ’n nuwe projekspan in die lewe geroep.
Vir diegene wat die Jeugindaba bygewoon het, was dit ’n goeie belewenis. “Mense gaan opgewonde hier weg,” het De Wet gesê.
