Ds Ernst Coetzee se oë blink as hy vertel hoedat mense wat kerklos geraak het, opgewonde raak oor die evangelie.
Coetzee is die dominee van Fresh Namibia, ’n bediening wat in die tradisie van Fresh Expressions hulle toespits daarop om mense te bereik wat eintlik nie meer kontak met die kerk het nie.
“Daar is heelwat sulke mense,” sê Coetzee, “mense wat gelowiges is, maar om verskillende redes nie meer by die kerk uitkom nie. Een been van Fresh Namibia se bediening is Fresh Families waarin hulle nou sowat 50 sulke gesinne begelei.
“Ons vat hulle van geen geestelike kos nie, na geestelike kos een maal per week.” Daarvoor gebruik hulle onder meer Fresh Namibia se webwerf. Dan het hulle ook van tyd tot tyd cluster-sessies wanneer dié mense in ’n koffiewinkel in ’n mall bymekaarkom.
Die benadering is dat die Here jou ontmoet nes jy is, waar jy is.
“Dis ’n baie vervullende bediening,” sê Coetzee.
Nog ’n been van die bediening is Fresh Businesses. Daarvoor gaan hulle na besighede toe en bied dan ’n sessie vir die werkers aan. Dit is Bybelgedrewe, nie bloot lewensafrigting nie, beklemtoon Coetzee.
Soms gebeur dit dat iemand uit een van die gesinne uit hom nooi na sy besigheid toe om daar met hulle te kom gesels. By sulke bedienings nooi hulle mense ook na die aandkerk toe.
Die aandkerk is eintlik waar alles so vyf jaar gelede begin het. Toe het hulle jongmense van tussen 20 en 40 jaar wat nie by die kerk betrokke was nie, uitgenooi. Hulle het met 20 tot 30 jongmense begin, maar nou is daar sowat 300 betrokke en daar kan 160 op een slag by ’n byeenkoms wees.
Die jeugbediening Fresh Seven is ook ’n belangrike been van Fresh Namibia se werk. Rias Oberholzer is die jeugwerker wat saam met Coetzee werk. Hulle is betrokke by skole, en reël Namibië se #imagine-feeste.
Fresh Namibia, sê Coetzee, kom uit die NG Kerk, maar gaan wyer as die NG Kerk. Hul mikpunt is nie om mense in die NG Kerk te kry nie, maar om mense opgewonde te maak oor die evangelie.
En vir Coetzee is dit verskriklik lekker om dit te doen. “Dit voel nie soos werk nie,” sê hy.
