In 2011 het drie gemeentes in Pretoria se Moot saamgesmelt om die NG gemeente Mootvallei te vorm. As hulle vandag terugkyk, is hulle glad nie spyt nie.
Die feit dat Eloffsdal (1908), Eloffsdal-Wes (1945) en Magaliesfort (1954) in 2011 verenig het toe al drie nog spierkrag gehad het, het die verenigde gemeente in staat gestel om ’n vars en dinamiese gemeentekultuur te vestig.
Kenmerkend van Mootvallei is hul sterk missionale inslag en diep betrokkenheid in die gemeenskap.

Linda, bedryf.
Hul vennootskap met inwoners van die Zama-Zama-plakkerskamp, die arm wit inwoners van Danville en die groot groentetuin is alles deel van die Zama-Zama Hope 4U Foundation. Daar is ook sterk hospitaal- en skoolbedienings, sowel as ’n studentebediening by Tshwane-Universiteit vir Tegnologie.
“Ons is daarop ingestel om ander se probleme te ondervang, nie om vir hulle te gee wat óns dink hulle nodig het nie,” sê dr Jan Botha, koördineerder van die kollegaspan.
Die gemeente se ses kollegas is almal tentmakers en deeltydse personeel wat ook op ander terreine diens lewer. Lidmate verstaan dat hulle verantwoordelik is om na mekaar om te sien, en word daarvoor geskool.
In teenstelling met die tradisionele model waaraan ouer geslagte gewoond geword het, is hierdie ’n meer volhoubare en lewensvatbare benadering vir nuwe werklikhede. Die gemeente lê groot klem op onderlinge eenheid, wat veral in die eredienste gevier word – daarom het hulle besluit om net een aanbiddingsruimte te behou. Terselfdertyd word daar ook ruim voorsiening vir diversiteit en vir vreemdelinge gemaak.
Hierdie jong gemeente is in baie opsigte ’n lewende kerklike laboratorium, wat graag hul ervaring met ander rolspelers deel. Mootvallei is deel van die Vennootskap vir Gestuurde Gemeentes en ander netwerke, en beskik oor heelwat akademiese en nie-akademiese hulpbronne.
Hul leiers is beskikbaar vir gesprekke, konsultasie en fasiliteringsprosesse, waarin hulle heelwat ervaring het. “Daar is baie slaggate in so ’n proses waarteen ons mekaar kan waarsku,” sê Botha, “maar soveel méér geleenthede vir kerklike vernuwing.”
Mootvallei se benadering word só op hul webwerf opgesom: “In hierdie gemeente gaan dit om die liefde van God vir elke mens, oor alle grense heen. Missie: ’n Tuiste vir al God se kinders. Gedring deur sy liefde, het God in Christus Jesus die grens oorgesteek na alle mense. Mense soos ek en jy. Daarom is jy welkom in ons gemeente. Op ons beurt, op die voetspoor van Jesus, steek ons ook in liefde grense oor na mense.”
▶ Lees meer oor die NG gemeente Mootvallei se reis by mootvallei.co.za; zamazamahope4u.com of alfapastoralepraktyk.com.
