Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

’n Nuwe tent vir evangelis Karabo vir sy eredienste by Marico-draai naby die Derdepoort-grenspos. Thabazimbi het die tent geskenk en ’n aantal lidmate het ’n erediens daar gaan bywoon.

Rampe demp nie Thabazimbi se deernis nie


Thabazimbi, die mooi dorp teen die hang van die Ysterberg in die Limpopo-bosveld, is die afgelope agtien maande deur n paar harde houe getref. Ernst Muller vertel hoe die gelowiges van Thabazimbi gereageer het.


Die versengende droogte verrinneweer die landbou. Die munisipaliteit het in duie gestort en is onder administrasie geplaas. En die groot ysterertsmyn, waaraan die dorp sy ontstaan en naam te danke het, het toegemaak.

Maar die gelowiges van Thabazimbi se deernis vir die hele wêreld is nie deur dié rampe gedemp nie. In die plaaslike NG gemeente, byvoorbeeld, is daar oor dekades heen ’n diepgewortelde kultuur van nederige en kundige diensbaarheid gevestig, wat dié teenslae oorleef.

Daar is min aksies wat uit hul eie geledere ontstaan het, maar groot gewilligheid om talle hulpaksies, wat uit ander kerke, organisasies en individue se inisiatief gebore is, na hul behoeftes te ondersteun.

Hul harte reik vér, onder meer na evangeliewerkers in Frankryk, Masedonië en ander Europese lande, aan wie lidmate gereeld diensbesoeke bring waartydens hulle dié dienaars bemoedig en op praktiese maniere met hul bedienings help. Hulle verleen ook morele en materiële hulp aan werkers in die Ooste: in Pakistan, Thailand en Japan.

In Suider-Afrika beweeg daar gereeld diens-safari’s na gemeentes en werkers in buurlande: Seronga in die Botswana-delta; die Topnaars van Kuisebvallei in Namibië, en die Lozi-gemeentes in Caprivi (waar hul leraarspaar ’n kwarteeu gelede as sendelinge gedien het).

“Die doel is nooit om ‘ons eie ding te gaan doen’ nie”, sê die uitreik-mense, “maar om, op versoek en onder die leiding van die plaaslike werkers en leiers eenvoudig te help waarmee ons kan.” Dit sluit dikwels harde fisieke arbeid in.

Ander gemeentes en kerkgroepe, diensorganisasies en staatsinstellings in Limpopo vind in dié gemeente ’n lojale en standhoudende vennoot. Toe Dwaalboom se evangelisasiespan by Marico-draai ’n nuwe tent benodig, het hulle méér ontvang in die gestalte van persoonlike besoeke en hulpverlening.

Om en op die dorp is lidmate onder meer by kinderhuise, skole, kleuterskole, plakkerskampe, die hospitaal en die gevangenis betrokke – altyd in noue samewerking met ander rolspelers. Wie aan Thabazimbi-gemeente se deur klop, sal nie sommer ’n koue skouer vind nie.

‘Ons werk met mense’

“Mense sê vir my: ‘Hier is geld vir jou projek, maar ons wil foto’s hê,’” vertel Trudy Vorster, wat onder meer voedselhulp aan minderbevoorregtes organiseer. “My antwoord is: ‘Ons werk met ménse, nie met dinge nie; ons sal niks doen wat hul menswaardigheid aantas nie.’”

Vroue by die tafel
Magda Benade gesels skoolsake met Gertrude Bull van die Topnaars wat ’n kleuterskool in die Kuisebvallei in Namibië begin het. Die foto is in Swakopmund geneem toe Thabazimbi se lidmate hulpmiddels vir die skool gaan oorhandig het. Foto’s: Verskaf

Sy voeg by: “Ons gee aan mense die beste kwaliteit kos en middele, met dié boodskap: ‘Die Here sorg beter vir ons as wat ons vir onsself kan sorg.’”

Die netwerk van welwillendheid waarvan dié gemeente deel is, lei tot wedersydse ondersteuning – in één treffende geval genoeg vleis om maande lank in die behoeftes te voorsien.

In dié verarmde myndorp is daar intussen ’n Bybelskool gestig. Lidmate bedien inwoners van huis tot huis met die evangelie, ongeag hul kultuur of kerkverband. Dié bereidheid om grense oor te steek is ’n refrein wat hom telkens herhaal. Dit is ook besonder waar vir die gemeente se toegespitste uitreike na die bejaardes van die ganse dorp en gemeenskap, wat vir hulle na aan die hart lê.

“Dit gaan natuurlik nie net oor kerklike projekte nie,” sê dr Tinus Benadé, die gemeenteleraar (en deeltydse boer), “maar oor die daaglikse verskil wat gelowiges maak, dáár waar hulle beweeg, en dáár waar hul hart lê.”

Daar is byvoorbeeld kundige lidmate wat, ten spyte van gespanne verhoudings en soms geniepsige reaksie, hul bystand aan die stadsraad aanbied. Ander is diep betrokke in die politieke lewe, by die skole, maatskaplike dienste en landboubelange.

Hulle bemoedig mekaar en herinner mekaar dat dit nie oor “ons gerief en gevoelens” gaan nie, maar oor die koninkryk, wat ter wille van alle mense én toekomstige geslagte op elke vlak van die gemeenskap moet deurbreek.

’n Nuwe Thabazimbi

Wat hou die toekoms in? Wat word van ’n strategies geleë dorp (130 km van al sy groter buurdorpe af, en omring deur kleiner gemeenskappe) wat sy kernbedryf verloor?

’n Mens dink onwillekeurig aan Heartlines se rolprent Hopeville, die storie van ’n geduldige visionêr wat alle rolspelers kan inspireer om nuwe moontlikhede raak te sien.

“Die Here het reeds so iemand voorsien,” getuig Tinus later. ’n Sakeman, ’n diep gelowige, het begin om nuwe lewe in die plaaslike sakekamer te blaas en moedig leiers en inwoners aan om gróót en kreatief te droom: oor ’n “nuwe” Thabazimbi wat vir die volgende 63 jaar en meer gereed is. “Ons praat hom moed in en versterk sy hande.”

“Die Here het soveel kosbare gawes aan ons kerk gegee: diepgaande kennis van sy Woord, saam met die gawes van onderrig; méér materiële middele en infrastruktuur as wat ons besef, en soveel waardevolle mense-materiaal. Ons glo dat dit ons roeping is om hierdie gawes ruimhartig met ander te deel,” bely Tinus met passie.

Thabazimbi inspireer ’n mens met haar ruggraat van staal én haar hart van goud.

▶ Kyk gerus na die gemeente se webwerf of Facebookblad.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top