Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Bid vir Stanford, vra Ring ná dwaling oor doop

Die Ringskommissie van die ring van Caledon het voorbidding gevra vir die gemeente Stanford terwyl die Ring en die Sinode van Wes-Kaapland help om die gemeente te stabiliseer.

Dit kom nadat die gemeente se predikant sy status verloor het weens leerdwaling en die ring ook ingegryp het in die bestuur van die gemeente.

Die volledige mediaverklaring deur die Ring van Caledon en die Moderatuur van die Sinode van Wes-Kaapland aangaande die gebeure in Stanford, lui soos volg:

Neil Olwagen, voormalige predikant van die NG Gemeente Stanford, se predikantsbevoegdheid is op 23 Februarie 2016 deur ’n onafhanklike ondersoekliggaam van die Ring van Caledon weggeneem as gevolg van leerdwaling ten opsigte van die doop en gevolglike verbreking van sy plegtige legitimasieverklaring.

Olwagen het volgens sy eie belydenis, by meer as een geleentheid, reeds-gedoopte lidmate van die NG Kerk en ander denominasies oorgedoop. Hy het aan die ondersoekliggaam meegedeel dat hy nie die NG Kerk se doopbeskouing persoonlik onderskryf nie. Hy gee ook toe dat sy doopbeskouing in stryd is met die leer van die NG Kerk en dat hy dus hiermee sy legitimasie-eed nie net verbreek het nie, maar ook nie verder kan handhaaf nie. Hy het dit verder duidelik gemaak dat hy die doopbeskouing van die NG Kerk nie as die ware doop beskou nie, maar dat dit slegs beteken dat die ouers van die kind ’n belofte aan God maak ten opsigte van die opvoeding van hulle kinders.

Olwagen het verder gegaan en die ondersoekliggaam meegedeel dat hy, wanneer die geleentheid hom voordoen, weer die herdoop aan reeds-gedoopte lidmate sal bedien én dat hy nie van plan is om van hierdie praktyk af te sien nie.

Olwagen het toegegee dat hy met hierdie beskouing en praktyk homself buite die raamwerk van die NG Kerk se leer en belydenis geplaas het en dat hy nie sy weg oopsien om sy standpunt hieroor te heroorweeg nie.

Die Ondersoekliggaam van die Ring van Caledon kon gevolglik nie anders as om Olwagen se predikantsbevoegdheid weg te neem nie. ’n Leerdwaling soos hierdie het ongetwyfeld ’n verdelende effek op ’n geloofsgemeenskap en gemeenteleiers het ’n groot verantwoordelikheid om ten alle koste daarteen te waak en die eenheid en heil van die gemeente te bevorder.

Dit moet ook vermeld word dat Olwagen reeds voorheen (2008), oor sy doopbeskouing as predikant van die NG Gemeente Onrusrivier bedank het. In 2011 het hy weer belydenis van geloof afgelê en lidmaat van die NG Kerk geword. Hy het aansoek gedoen om hertoelating tot die bediening en is weer in 2012 gelegitimeer, d.w.s. toegelaat om as predikant te dien in die NG Kerk. Tydens hierdie proses van hertoelating moes en het hy instemming met die kerk se verstaan van die doop betuig. Hy is hierna na Stanford beroep as leraar van die NG Gemeente.

Ten spyte van hierdie verlies van predikantsbevoegdheid op 23 Februarie 2016 het Olwagen voortgegaan om, met die goedkeuring van die leiers in die gemeente, eredienste in die NG Kerk se kerksaal direk langs die kerkgebou te hou. Intussen het die ringskommissie van die Ring van Caledon asook verteenwoordigers van die sinode vir meer as twee maande die kerkraad met geduld en liefde probeer begelei in die proses. Die kerkraad het egter geweier om die beslissing ten opsigte van Olwagen se verlies van bevoegdheid te aanvaar. Dit het ’n skeuring in die gemeente teweeg gebring en selfs die voortbestaan van die NG Kerk Stanford in gedrang geplaas.

Die ringskommissie het daarvan bewus geword dat die kerkraad van voorneme was om die geboue van die gemeente vir vyf jaar aan ’n nuwe gemeente onder leiding van Neil Olwagen te verhuur. Op 28 April 2016 het die ringskommissie ’n kerkvisitasie besoek aan die gemeente gebring en tot die besef gekom dat die kerkraad kerkordelik nie korrek saamgestel is nie en dus regtens nie bevoeg is om wettige besluite te neem nie. ’n Vyfjaar huurooreenkoms sou vernietigende gevolge vir die NG Kerk van Stanford hê. Die ringskommissie het verder kommer ontwikkel oor die hantering van fondse in die gemeente.

Aangesien die kerkraad weens verskeie redes disfunksioneel geraak het, riskante besluite geneem het en nie meer die belang van die gemeente gedien het nie, was die ringskommissie verplig om die bestuur van die gemeente oor te neem (reglement 24.2.4.1 en reglement 26 van die Sinode van Wes-Kaapland asook artikel 22.2 van Die Kerkorde). Die ringskommissie het die oorblywende lede van die onwettige kerkraad uitgenooi om saam n bestuurskomitee te vorm om die gemeente te bestuur. Hulle het egter daarteen besluit.

Tans neem die ringskommissie verantwoordelikheid om die eredienste te laat voortgaan. Die Ring van Caledon en die Sinode van die Wes-Kaap gaan die gemeente help om te stabiliseer en weer ’n funksionerende gemeente te word.

Die ringskommissie vra voorbidding vir die gemeente van Stanford.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top