Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Dit voel al meer soos burgeroorlog’

“Die regering onderspeel die erns van die situasie, maar vir die burgers van ons land, en lidmate van ons kerk, voel dit al hoe meer soos die burgeroorlog van vroeër.”

Die spreker is ds Gabriel Chibota, moderator van die Novo Sinode van die Igreja Reformada de Mozambique (IRM, die NG Kerk se susterskerk). Die geleentheid is ’n onlangse skakelbyeenkoms van die Novo Ondersteuningsvennootskap, waar rolspelers van die IRM en betrokke NG gemeentes en liggame nuus en gedagtes uitruil (daar is soortgelyke netwerke vir die ander twee IRM-sinodes).

Die spanning en skermutselings tussen Renamo, die opposisieparty, en die regerende Frelimo-party en die weermag, kring uit vanaf Gorongoza, en beïnvloed reeds ’n groot deel van die smal middelstrook van Mosambiek, en belemmer verkeer op die nasionale hoofpad en ander roetes.

Etlike duisende inwoners het reeds, soos tydens die burgeroorlog, na Malawi gevlug. Die probleem word vererger deur die droogte, gepaardgaande voedseltekorte en finansiële nood in albei lande.

Leraars kan nie orals meer by rings- en sinodale byeenkomste uitkom nie, sê Chibota. Daar is selfs leraars wat as gevolg van die konflik nie meer wyke en gebedshuise in hulle eie gemeentes in veiligheid kan besoek nie. Daar was al aansienlike intimidasie en lewensverlies, en die vrees dat die konflik tot ’n landwye oorlog kan uitkring, is op almal se gemoed.

“Ek is nie seker of ons studente hierdie jaar na die Noorde sal kan reis vir ons praktiese sendingopleidingbesoeke aan onbereikte groepe nie,” sê ds Willem Nel, vir 19 jaar reeds aan die stuur van Volta à Bíblia Opleidingsentrum in die suidelike Gaza-Provinsie.

Die eskalerende geweld het ook ernstige implikasies vir besoekende spanne uit Suid-Afrika, wat normaalweg hulle ondersteuningsuitreike vir die winterskoolvakansie beplan. “Daar is nog baie veilige roetes,” sê Chibota, “maar groepe moet deeglik met hulle Mosambiekse gashere kommunikeer voordat hulle dié reise aanpak.”

“Hierdie dinge gebeur in ’n tyd waarin ons besondere groei in die IRM waarneem, in getalle, maar veral in die gesindheid van lidmate wat al hoe meer verantwoordelikheid vir die plaaslike gemeentes neem,” sê ds Chibota. “Die verhouding met Suid-Afrikaanse gemeentes is al hoe meer dié van familielede wat mekaar opbou, en al minder ’n gee-en-neem-situasie.”

Uitreikleiers bevestig dit met inspirerende getuienisse van groei in die NG spanne se insig en gesindheid. “Ons het mekaar nodig, die seën vloei nie net in een rigting nie.”

Suid-Afrikaanse gelowiges kan nie die situasie verander nie, maar ons kan mekaar bystaan in moeilike tye. “Ons moet weer die goue geleentheid van die vlugtelingkampe raaksien,” sê ds Kobus Minnaar, gesoute sendeling.

“Ons grootste versoek is nie vir materiële goed nie, maar vir ernstige voorbidding,” sê Chibota.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top