Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Jaap se boek lees soos ’n avontuurverhaal

“Die koerant Kerkbode wat ons uitgee, is twee weke lank nuus. Die tydskrif LiG dalk ’n maand lank. Sommige van ons boeke verkoop goed vir ’n jaar, dan is hulle leeftyd verby. Soms, net soms, gee ons boeke uit wat deel is van die geskiedenis. Professor Jaap Durand se Protesstem is so ’n boek.”

ProtesstemAan die woord is dr Nico Simpson, hoof van Publikasies en e-Media by Bybel-Media. Dit was op Dinsdagaand, 10 Mei by die Universiteit Wes-Kaap (UWK), tydens die bekendstelling van “Protesstem”, die aangrypende werk van professor Jaap Durand oor die profetiese getuienis van sy lewe teenoor die apartheid-­regime van destyds.

In sy rede het professor Durand vertel dat die opskryf van sy ervarings as sendeling in Cala in die Transkei en Kwazakhele in Port Elizabeth, asook as viserektor aan die UWK, reeds 25 jaar vantevore begin het “toe die gebeure nog vars in my geheue was”.

Volgens Durand is die UWK se storie van die jare sewentig en tagtig, toe hy viserektor was, die storie van een van apartheid se sterkste teenstanders. Hy het dié verhaal geskryf omdat die gebeure van die “struggle”-jare nie vergeet mag word nie.

“Maar die verset van die UWK is nie die storie van een mens nie,” sê Durand. “Dit is die storie van baie mense, té veel om op te noem, mense soos Dick van der Ross, Jakes Gerwel, Stan Ridge, Rhoda Khadalie, Pieter le Roux, Daan Cloete en baie ander.”

Durand het glimlaggend vertel dat die dak van die ouditorium waarin die boekbekendstelling gehou is, ’n opening het waardeur op 16 Junie, die dag wat die geleentheid in 1976 gedenk toe die jong mense van die land die koers van Suid-Afrika vir goed verander het, die son deurskyn, soortgelyk aan die Voortrekkermonument op 16 Desember.

Prof Stan Ridge, voormalige Engels-professor aan die UWK, het Durand geloof vir die fundamentele rol wat hy in die geskiedenis van die UWK gespeel het. Hy het mense wat baie kwaad vir die regering en die bestel van destyds was, gehelp om só op te tree dat hulle nie die min wat hulle reeds gehad het, heeltemal vernietig nie.”

Dr Pieter Fourie, Bybel-Media se uitvoerende hoof, skryf oor Durand se boek: “Prof Jaap Durand se boek lees soos ’n avontuurverhaal – ek glo veral vir diegene wat die veelbewoë tyd waarbinne dit afspeel eerstehands meegemaak het. Selfs vir diegene wat ver van die vuur af was, behoort dit ’n boeiende openbaring te wees van hóé veelbewoë dié tyd regtig was. Dit gee nogal perspektief op baie dinge wat ons vandag steeds in Suid-Afrika beleef, en dink dat dit erg is! Boweal is dit duidelik: Profeet-wees was nog nooit vir sissies nie!”

Die boek kan by Bybel-Media Handel bestel word by bestel@bmedia.co.za of 0860 26 33 42. Bestellings kan ook aanlyn geplaas word.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top