Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Só verskil die NG Kerk oor die Bybel

Die problematiek oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag is so kompleks “omdat ons erns maak met die Bybel as die Woord van God in die NG Kerk”.

So het prof Fanie Snyman, dekaan van die fakulteit ­teologie aan die Vrystaatse Universiteit, by ’n streeksbyeenkoms van die Noord-Vrystaatse gemeentes in Kroonstad gesê. Dit was die laaste van drie sulke streeksbyeen­komste waar Vrystaters kon gesels oor self­de­geslagverhoudinge, voordat ’n buitengewone si­no­­de in Oktober gehou word.

Fanie Snyman-2
Prof Fanie Snyman aan die woord by die Noord-Vrystaatse streekbyeenkoms in Kroonstad. Foto: Neels Jackson

Snyman het gesê as die Bybel onbelangrik was, sou die kerk baie makliker besluite kon neem.

Die rede waarom daar soveel verskil is oor die saak, is omdat mense in die kerk die Bybel verskillend lees, het Snyman gesê. Hy het onderskei tussen twee verskillende maniere van lees: ’n meer konfessionele lees en ’n meer historiese lees.

Snyman het dadelik gesê dat dit ’n vereenvoudiging is. Die werklikheid is baie meer ingewikkeld. Meestal is mense se manier van Bybel lees ’n vermenging van konfessionele en historiese lees.

Hy het sy gehoor egter gevra in watter een van die twee maniere van lees wat hy voorhou, herken hulle hulleself die meeste.

Die meer konfessionele lees soek na ewige, altydgeldende waarhede wat op die hede toegepas kan word. Dit neig meer na ’n meganiese inspirasiebeskouing. Dit soek na ’n sisteem wat sluit, waar alles klop. Van hier af is dit ’n klein tree na ’n a-historiese lees van die Bybel.

In dié soort lees is die Bybel ’n organiese eenheid waar alles op dieselfde vlak lê. Alles moet met mekaar in verband kan kom. Tekste is belangrik om tot ’n Skrifgefundeerde standpunt te kom.

Aan die ander kant lê die meer historiese lees van die Bybel. Dié metode beskou die historiese agtergrond van die tekste as belangrik. Dit meen ook dis onverantwoordelik om alles in die Bybel te lees asof dit op dieselfde vlak lê.

Dié soort lees meen ook dis belangrik om die literêre dimensie van die teks ernstig op te neem. Jy lees ’n brief anders as ’n psalm en anders as apokaliptiek of wysheid of as ’n evangelie.

Die eksegetiese gevolgtrekkings in hierdie soort lees is baie meer beskeie en daar word gesoek na die breër tendense, waardes en teologiese tradisies wat deur die Bybel loop om by antwoorde uit te kom.

Snyman het die twee maniere van lees vergelyk met verskillende maniere om oor die kloof tussen die teks en vandag te kom. Die meer konfessionele lees bou ’n snelweg, waar die meer historiese lees versigtig oor ’n hangbrug stap terwyl dit probeer vashou aan historiese en literêre dimensies van die teks.

In die gesprek oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag, is die resultaat van die meer konfessionele lees helder: dit is sonde.

Met ’n meer historiese lees, is daar ruimte vir homoseksuele mense, want dit is onmoontlik om seksuele oriëntasie terug te lees in die tekste. Die tekste praat oor seksuele vergrype.

Snyman het gesê in al die groot kerklike debatte soos oor Kerk en Samelewing, die vrou in die amp, kindernagmaal, het die meer historiese lees van die teks altyd die deurslag gegee.

So is daar geen teks wat sê vroue mag predikante word nie. Daar is tekste wat sê vroue moet stilbly en hulle deur hulle mans laat leer. Tog het die NG Kerk besluit vroue mag dominees word – en min mense in die kerk sal vandag sê dit is teen die Bybel.

Snyman het ook gesê verdraagsaamheid is ’n kenmerk van die NG Kerk. Die kerk huisves verskillende teologiese tradisies en tog “hou ons dit uit met mekaar”.

Die saak oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag is te veel van ’n middelmatige saak om die kerk daaroor te skeur, het Snyman gesê.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top