’n Swaar gestremde kind. ’n Ouma met ’n moederhenhart. ’n Afgetrede dominee wat diensbaar bly. Drie mensverhale deurkruis mekaar met ’n verstommende getuienis van selflose liefde. Annalise Wiid het by hulle gaan kuier in een van die armste, gevaarlikste townships buite Kaapstad.
Kindergesiggies loer opgewonde deur die veiligheidshek. Staan nader vir drukkies toe ons inkom. Op die voorstoepie hang rye wasgoed in die skraal sonnetjie. Daaronder staan sewe rolstoele, waaroor klam kombersies gegooi is. Droogkry lol maar in die Kaapse reën.

Masincedane. Dis die huisie se naam. Dit beteken: Laat ons mekaar help. Hier word wonders gedoen. Buite, op die voormuur, is die woorde Special Care And Home geverf. Vrolike prentjies ook. ’n Dogtertjie met ’n tros ballonne. ’n Seuntjie in ’n ruimteskip. Skoon, wit, rooidakhuisies. ’n Bambi-bokkie. Groen gras. Blomme.
’n Mens moet dit maar op die mure verf. Want hier groei nie gras waarop kinders kan speel nie. Dit is Nyanga. Op die vlakte aan die voetenent van die Kaapse lughawe. Suid-Afrika se berugte “moord-hoofstad”. Smal straatjies, sinkwinkeltjies, konkavure. Die mense hier is broodlyn-arm. Kultuur-ryk. Die huise is klein: 80 vierkante meter. Sit óp die straat. Sonder voortuin of spasie. Hierdie spesifieke Masincedane-huis se ruimte lê in die harte van die mense wat hier werk. En in die gelukkige kinders wat hier woon.
Dit is ’n mooi, hartseer storie. Ek besoek Masincedane saam met emeritus ds Tinus van Zyl. Sy bedieningspore lê van die Oos-Kaap tot Stellenbosch. Maar later meer oor hom. Laat ek jou eers van Lihle en haar ma, Nancy Rwexana, vertel …
Lihle en Nancy
Dit is aan Lihle te danke dat Masincedane ontstaan het. Sy is serebraal gestrem gebore. Erg. Sy kon byvoorbeeld nie self eet nie; moes voltyds versorg word. Nancy se ma het Lihle help oppas. Ná haar ma oorlede is, kon Nancy nêrens ’n betroubare oppasser vir Lihle kry nie.

Die meeste mense sal inmekaarsak van moedeloosheid onder die oorwig van sulke omstandighede. Nie Nancy nie. Sy het regop gebeur. Sy het begin wonder: Wat word van ander gestremde kinders wat niemand het om hulle te versorg nie? En ’n huis gebou: Masincedane. Net vier vertrekkies. Maar dit was haar, én Lihle, én vele ander se behoud.
Nancy versorg tans twintig gestremde kinders van tussen sowat 4 en 20 jaar. Dag en nag. Sonder staatshulp. Sy het slegs ses wonderlike vroue en vir Tinus aan haar sy.
’n Mens kan jou net die bomenslike uitdagings voorstel. Hoeveel moed en deursettingsvermoë dit moes verg om tot hier te kom. Hoeveel deurgehuilde nagte. Hoeveel verstommende moederliefde.
Lihle beteken: Jy is mooi. Lihle is verlede jaar, op haar 23ste verjaardag, oorlede. Masincedane is haar mooi na-latenskap aan ons sukkelende wêreld. Dit bevestig: Sy is nie verniet gebore nie.
Nancy is ’n knap bestuurder. Dit is met die intrapslag duidelik. Die kinders se waslappies hang netjies in ’n ry. Bekertjies met elkeen se naam en tandeborsel staan in gelid op ’n rak. Daar is dag- en weekskedules – vir aktiwiteite en terapie – op ’n skryfbord teen die muur. Die week se spyskaart teen die koskas in die kombuis. In die kantoor is die personeel se foto’s opgeplak. Met daarby ’n nota: “Children need love, care, contact, respect …”

Die huis is rustig. Ons loer in by die groter kinders se stapelbedkamer. Skoon. Netjies. In die ander kamer staan sewe bababedjies styf teen mekaar. Ingedruk. In elkeen lê ’n sukkellyfie onder ’n sagte kombersie. Een seuntjie rek sy nekkie, draai sy kop na my toe. Dit lyk of hy lag. Maar hy lyk altyd so. Ook as hy huil. Sy gesiggie kan nie anders nie. Hy sak tevrede terug op die kussing wanneer ek sy wang streel.
Op die grond, op ’n dik, blou speelmat, stik ’n huilende kleintjie aan ’n malvalekker. ’n Ouer maatjie klop hom moederlik, maar lomp op die rug. Die half-gekoude malvalekker trek doer. Zoleka, een van die oppassers, waak heeltyd. Besorgde arendsoog.
Tinus se rol
Die teëls – op die vloere en in die nuut opgeknapte badkamertjie, die yskas, kombuiskaste, TV, gasstoof, wasmasjiene, duvets en die R3 000 se doeke per maand – álles is tekens van liefde. Weldoeners se werk. Maar hier is nie sprake van ’n goedkoop sodat-ek-kan-beter-voel-oor-myself soort aalmoesuitdelery of ’n julle-skuld-ons soort inpalm nie. Hier is rêrige handevat. Dit spreek uit die goeie verhoudings. En Tinus is die tussenganger.

Hy hét dit net, sê sy vriende. Hy het ’n gawe om mense aan die gang te kry. Om die hand wat graag wil help, in kontak te bring met die hand wat die hulp nodig het. En dan gebeur goeie dinge. Mét mense én tussen mense. Die hand wat gee, kry ook. En die hand wat ontvang, gee ook. Weerskante toe verryk hulle mekaar se menswees.
Tinus is baie beskeie daaroor. Hy glimlag net. Ek ken gelukkig meesal iemand wat kan help, sê hy. ’n Boer in die Bokveld wat my rug toehou. ’n Vriend wat weet van wasmasjiene. Of van gasstowe en elektriese drade. Of ’n praktiese pel wat kan teëls lê. Ons benodig nog net iemand wat kan help met die begroting. Wanneer Tinus (nou 75) eendag nie meer verder kan nie, vertrou hy dat daar iemand sal wees wat die aflosstokkie by hom kan aanvat.
Tinus, oorspronklik van Louterwater in die Langkloof, vertel hoe hy as student besluit het om homself beroepbaar te stel vir die NG Kerk in Afrika. Sy loopbaan het as sendeling op Komga in die Oos-Kaap begin. Waar sy evangelis-kollega hom geleer het: Swaarkry is “part of the job”. In agt en ’n half jaar rig hulle veertien plaasskole op, van die grond af. Tinus het daar leer Xhosa praat. Dit help nou baie. Hy gesels gemaklik met Masincedane se personeel, terwyl ek met my mond vol tande staan. Xhosa is die voertaal in Nyanga.
Tinus en sy vrou, Marina, is later na Oos-Londen se moedergemeente beroep. Daarná was dit Somerstrand, in Port Elizabeth. En toe Stellenbosch se moedergemeente, as studenteleraar, vir sy laaste loopbaanskof. ’n Energieke be-diening wat hy besonder baie geniet het. Nou woon hulle in Kuilsrivier.

Sommige mense sê mos jy retire nie, jy retread net, lag Tinus. Ná sy aftrede in 2002, sluit hy hom by die Kingfisher Mobiliseringsentrum (KMS) aan. Kingfisher stel hulleself ten doel om gelowiges te mobiliseer om die evangelie daadwerklik te lééf. Een van sy Kingfisher-kollegas neem hom op ’n dag Nyanga toe en stel hom aan Nancy Rwexhana en Priscilla Ligwa bekend. Mobiliseer was hier nie nodig nie. Hulle wiele was reeds aan die rol.
Priscilla’s Home Care, ’n veilige huis vir vigswesies, is net straat-af van Masincedane. “Ek het gesien die Here is reeds hier aan die werk,” vertel Tinus, “ek kan maar net inval en saamwerk”. En retire word toe re-fire.
Die “inval en saamwerk” behels dat hy aandag gee waar dit nodig is. Die huise se elektrisiteitstelsel was byvoorbeeld onvoldoende. Priscilla se huis het nie ’n badkamer gehad nie. Party kamers het verf nodig gehad. Die vroue wat by beide huise met die versorging help, moes destyds op ’n karige R500 per maand oorleef. Hulle salarisse het sedertdien vervierdubbel.
Een van Tinus se seuns, Auret, ’n prokureur en sakeman in Switserland, help baie met befondsing deur sy liefdadigheidsorganisasie, More 2 Life (www.more-2-life.org.uk).
Priscilla
Priscilla gaan moeisaam sit. Leuen swaar op die kruk in haar regterhand. Haar onwillige beroerte-been sleep effens. Sy is al goed grys. Twee klein kindertjies speel by haar voete. Dans met wikkel-lyfies wanneer ons sing. Dit is ’n prentjie wat ek sal onthou. Hulle is soos die Bybel se weduwees en die wese. Om hulle te help in hulle swaarkry, skryf Jakobus, is suiwer aanbidding.
Priscilla lyk soos ’n doodgewone weduwee-ouma. Maar gewoon is sy beslis nie. En die kleintjies is mos ook nie reg-tig hare nie. Vigs, ellendeling! Sy is hulle noodgedwonge toevlug. Hulle voel veilig onder haar vlerk.
Haar vier eie kinders is lankal groot en uit die huis uit. Priscilla is ook nie regtig ’n weduwee nie. Net alleen. Was nooit getroud nie. So het die lewe nou maar uitgespeel. Haar hart is groot en onmeetbaar goed. ’n Mens sien dit in haar sagtheid. Haar oop-wees vir die verlate kinders. Sy het hulle opreg lief. Onverskrokke en heelhartig.
Die beroerte was in 2010, vertel sy. Van stres oor die kinders se welstand. Sy moes vyf maande in die hospitaal bly. En sy het vreeslik na die kinders verlang. Priscilla het haar huis van veiligheid in 2005 begin. Nadat sy as huishulp afgetree het. Erbarming retire blykbaar ook nie.
Sy het in Komga grootgeword. Waar Tinus se loopbaan toeka-tyd begin het. Ek wonder of sy dalk in een van sy plaasskooltjies was? Gaan sy nog soms terug daarheen? Af en toe, vir vakansie, ja. Laasjaar het sy haar kinders saamgeneem. Anders, wie gaan na hulle kyk? Sy moes tien buskaartjies koop. Darem ’n bietjie afslag gekry.
Haar twee helpers, Azakhe en Lizeka, is net so lieflik soos Nancy se ses. Hulle maak haar hande sterk. Om die huis skoon te hou en al die honger magies vol te kry, is nie kinderspeletjies nie. Smiddae kom Shirley die kinders met huiswerk help. After School Club.
Om dié twee huise saam met Tinus te besoek, is allermins neerdrukkend. Selfs al stem die kinders se swaarkry ’n mens hartseer. Eintlik staan ’n mens verstom. Jy voel klein, nederig. Heeltemal oorweldig deur die weldadigheid van hierdie groepie opregte mense, wat só mekaar se hande vat. Sorgsame hande wat ’n spesiale ketting vorm. Met elke skakel gesmee uit suiwer, sterk liefde, wat sê: Só lyk God se hart.
