“Waarom kan die Franse Kerk nie hulle eie mense bereik nie?” vra ’n kerkleier onlangs. Inderdaad, waarom is daar ’n amptelike NG Kerk-sending na Frankryk en ’n liggaam soos die Gesamentlike Kommissie vir Evangelie-bediening in Frankryk (GKEF)? Ernst Muller vertel meer.
Deel van die antwoord lê in die situasie in Frankryk self, wat vroeër en méér as ander Europese lande sekulêr geword het, en waar die kerk verklein en verswak het.
By die vergadering van die Gereformeerde Ekumeniese Sinode (GES) in 1980 in Nimes “is gerapporteer oor die nood in Frankryk en in besonder die toestand van die Gereformeerde Kerke in die land van die Hugenote”, skryf ds Piet Grobler in sy boek, Frankryk – Oop deur vir die kerk (CLF, 2012). Grobler en sy vrou, Bets, speel sedert die 1970’s ’n deurslaggewende rol in dié aksie.
Voordat die NG Kerk in die vroeë 1980’s amptelik betrokke geraak het, was daar al lidmate wat oortuig was dat die Here hulle na Frankryk roep, en gemeentes wat hulle ondersteun het. ’n Deel van die motivering was die gedagte aan ’n “ereskuld” vir die erfenis wat die vlugtende Hugenote uit Frankryk sedert 1688 na Suid-Afrika gebring het.
Die Algemene Sinode het Frankryk in 1982 as arbeidsveld by sinodes aanbeveel, en verskeie streeksinodes en ge-meentes het daaraan gehoor gegee.
Die 300-jarige herdenking van die herroeping van die Edik van Nantes in 1985 het belangstelling in Frankryk opnuut laat opvlam. Dit is ook dié jaar waarin die GKEF in die lewe geroep is om die werk te koördineer. Samewerking met kerke en organisasies in Frankryk was uit die staanspoor ’n belangrike uitgangspunt.
Hugenote-durf
Daar is talle verhale van werkers of gesinne wat oor die afgelope dekades as sendelinge na Frankryk gegaan het – verhale van deurbrake, frustrasies en uitdagings.
Wat uitgelig moet word is dat dié land- en geloofsgenote hulleself onderskei het deur hulle vasberadenheid, toewyding en deursettingsvermoë, deur húlle Hugenote-durf wat ná meer as drie eeue nog deurslaan.
In dieselfde asem moet met dankbaarheid getuig word van die groot aantal leiers, lidmate en gemeentes (reeds 340 in 2010) wat hierdie werkers daadwerklik ondersteun. Die GKEF is ná 30 jaar nog steeds aktief en effektief, en besig om nuus uit Frankryk wyd en syd te deel.
’n Belangrike deel van die sendeling-versorging bestaan uit besoeke aan die arbeidsveld: vriende uit SA wat die werkers gaan bemoedig en op praktiese maniere help (bv met lektuurverspreiding, spesiale geleenthede en so meer) en lidmate wat, tydens Europese besoeke, nie vergeet om met ons werkers kontak te maak nie.

Tydens sulke reise, en waar saamtrekke en retraites gereël word, reik die GKEF se mense ook uit na ander Suid-Afrikaanse sendelinge in Europa: in België, Portugal, Nederland en Masedonië.
Ds Sanré Benade van die NG gemeente Potchefstroom-Kandelaar doen jaarliks moeite om spannetjies studente (op rietskraal begrotings) aan dié werkers en arbeidsvelde in Frankryk te gaan blootstel, ’n bewussyn van die nood en geleenthede te kweek, en met die behoeftes van die oomblik te help.
Heelwat van die werkers wat uit Suid-Afrika kom, is leraars. Baie moes noodwendig tentmakersbedienings beoefen om in dié duur land te oorleef en toegang na die inwoners te kry.
Hulle kinders
Die meeste van hulle kinders het Frans vlot leer praat, die kultuur aangeneem, soms met Franse burgers getrou, en sit hulle ouers se werk voort – nie noodwendig as leraars nie, maar as professionele mense wat hulle geloof uitleef en deel, en leiding neem in protestantse gemeentes.
Een so ’n voorbeeld is Tracy du Rant Arnaud, wat aktief binne die gemeenskap dien en saam met haar man, ds Pierre Arnaud, ’n gemeente op die been bring. Soos wat ’n handjievol Hugenote destyds as suurdeeg in die Suid-Afrikaanse samelewing ingewerk het, is hierdie tweede en derdegeslag gelowiges ook nou besig om die evangelie “van binne af” te deel.
Die teikengroepe van dié klein, maar kragtige aksies, is lankal nie meer nét geestelik-ontwortelde inheemse Franse burgers nie, maar ook die groot getalle immigrante en vlugtelinge wat Europa oorspoel. Baie van dié nuwe burgers en onwettige immigrante het nooit enige vorige kontak met die Goeie Nuus omtrent Jesus gehad nie.
In ’n tyd wat daar baie kritiese vrae oor sogenaamde “outydse wêreldsending” gevra word, dien hierdie mooi bedienings as voorbeelde van hoe die NGK steeds, op ’n tydlose én eietydse wyse, ’n waardevolle vennoot in die Liggaam van Christus is, en haar gewig ingooi ter wille van die bereiking van enige verdwaaldes, wáár in die wêreld hulle hul ook mag bevind.
Evangelie-verkondiging was nooit net op burgers van die “derde wêreld” gerig nie, maar onder meer ook op ons Europese stamgenote (oor wie gelowiges van die sogenaamde “Globale Suide” net so begaan is, en na wie hulle ook, soos die NG Kerk, kruis en dwars vanuit Afrika en Asië uitreik).
▶ Om meer oor die Franse sending te wete te kom, kontak GKEF-leiers: Stephan Weyers by stephanw@telkomsa.net of stuur ’n e-pos na johan.werda@gmail.com vir Johan van Loggerenberg se aandag.
