Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ons moet dié twee liedere saam sing

Ek was verlede week by die begrafnis van Winnie Rust in Wellington. Die meeste mense by die begrafnis het haar beter as ek geken.

Sy was egter ’n buitengewone mens. Selfs ’n enkele ontmoeting met haar sou jou laat verstaan dat jy in die teenwoordigheid was van iemand met karakter, met diep insigte en met ’n omarmende persoonlikheid.

Sy is vermoor, baie moontlik deur een van die talle mense in Wellington vir wie sy buitengewoon goed was.

Daar was baie mense by die afskeidsdiens. Natuurlik dr Manie, haar bejaarde man, haar kinders en kleinkinders – almal bedroef, ontredder en ontwrig. Daar was honderde ander familielede en vriende, mense wat diepgaande beïnvloed is deur haar lewe, maar ook aangeraak is deur die skokkende verlies van haar teenwoordigheid in die gemeenskap.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/01/J-van-Rensburg-Nelis.jpg” caption=”Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]

Mense vertel vir my die dorp het tot stilstand gekom tydens die diens. Die winkels was leeg en die strate stil. Ek het die diens bygewoon om aan Winnie eer te betoon, maar ook om my solidariteit te betoon met ’n gemeente en gemeenskap in rou.

Die liturgie van die diens was aangrypend. Die Hugenote Hoërskool se koor, onder leiding van Johann Enslin, het die isiXhosalied Indodana aangrypend gesing.

Ngob’umthatile umtwana wakho, uhlale nathi hololo helele (The Lord has taken his Son who lived amongst us), Indodana ka nkulunkulu bavi’bethelela hololo helele (The Son of the Lord God was crucified).

Dan sing die mans ’n koorgedeelte: Hololo Baba Jehova, Hololo Father Jehovah (Hololo verteenwoordig “om te huil” en kan nie vertaal word nie). Zjem zja baba, Zjem zja Father (Zjem zja is ekspressief en kan nie vertaal word nie).

Ek is onder die indruk van die rou emosie van miljoene mense in ons land wat die afgelope jare by die grafte gestaan het van geliefdes wat wreed die reg op lewe ontneem is.

By elkeen van die, vir my, naamlose slagoffers van die duisende plaasmoorde, townshipmoorde, moorde waar verhoudings skeefgeloop het, of die talle moorde waar baie geld en bates by betrokke was, was daar telkens eggenotes, ouers, kinders, families, gemeenskappe in ’n kerk gevul met verslaentheid, ontreddering en ontwrigting.

Voeg nog by al die moorde die geweld teen vroue en kinders, die verliese wat ons beleef aan veiligheid en sekerheid, die anargie en opstand van ontevrede mense, en die woorde van Indodana kry swaar betekenis.

“Die Here het sy Seun wat tussen ons gewoon het weggeneem.” Hy is ook vermoor. Ja, die Seun van God is gekruisig.

Dit is ’n stelling waaroor daar baie teologies gedink en gedebatteer kan word. Die ironie is dat dit die woorde sonder woordeboekbetekenis is, in die lied, wat die meeste sê: “hololo, zjem ja baba”.

Ek het saam met die koor gehuil tot God. Ek wou huil saam met die familie en al die miljoene mense van Suid-Afrika wat al so in kerke gesit het, en saam met die koor sing: “hololo, zjem zja Vader”.

Hoe het ons so gekom? So sonder respek vir mekaar? So sonder waardigheid? Dit is immers nie op ander plekke so nie, nie in Europa of in Afrika nie. Wat het met ons gebeur dat óns so gewelddadig is? Dis immers nie net “hulle” wat so is nie. Kyk maar na die brutaliteit van mense op facebook. Die rou rassisme, die kru veroordelings, die bitter vervloeking van mekaar. Moord en ge­weld het kom woon, diep in ons aannames en oordele.

Toe preek ds Lettie Büchner kragtig en troostend by Winnie Rust se diens uit Johannes 20. Dit is die  opstandingsverhaal.

Maria het buite die graf staan en huil, “hololo, zjem zja Vader”. Toe praat Jesus met haar en sê: “Maria, hoekom huil jy?” Die noem van haar naam, laat haar Hom herken. En sy sê vir Hom: “Rabboeni!” Dié slagoffer van verlies, “omdat God Hom weggevat het”, word ’n nuwe leerling, volgeling, dissipel.

Die mense van Suid-Afrika wat glo in die opstan­ding van Christus, in die teenwoordigheid van God, aan God se persoonlike omgee vir elke mens, aan sy ken­nis van elkeen se naam en storie, sal nou nuut leerlinge moet word. Ons sal in hierdie Seisoen van Mens­waardigheid by ons “Rabboeni” nuut moet leer van re­spek vir mense, omgee, nederige diensbaarheid, self­­prysgawe. Ons sal nie langer uit ons pyn of ons ver­lies of swaarkry of verlede kan leef nie, maar uit die krag van die opstanding, aangevuur deur die Pinkstergees.

Winnie se diens is afgesluit met die Oorwinningslied. “Ek sien in my gees die glorie en die almag van die Heer … ” Ons sal met oorgawe die twee liedere saam moet sing, die lied wat huil oor die stukkendheid en die lied van hoop.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top