Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
In die Nuwe Testament is ’n belangrike aksent die totstandkoming van nuwe, diverse gemeenskappe van Jerusalem tot Rome.
In ’n wêreld gekenmerk deur duidelike grense tussen verskillende kultuurgroepe het die Christene intensioneel daarna gestreef om so inklusief as moontlik te wees. Volgens Kolossense 3:11-14 was daar volgens hulle nie meer ’n onderskeid tussen Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar en selfs Skittiër (inwoners van die Suide van Rusland), slaaf en vry persoon nie.
Die rede onderliggend aan die ophef van alle etniese, religieuse, kulturele en ekonomiese grense was dat Christus geen onderskeid van enige aard tussen mense maak nie.
Die ophef van grense het egter nie beteken dat Christene ’n enkele enerse kultuur, taal of identiteit ontwikkel het nie. Net soos die ophef van die onderskeid tussen man en vrou in Galasiërs 3:28 nie meegebring het dat daar voortaan net een geslag was nie, het Christene nie afstand gedoen van hulle diverse identiteite nie.
Pinkster het immers nie gelowiges van hul unieke identiteit gestroop nie maar dit eerder bevestig (Hand 2:1-13). Net so min as wat eenheid enersheid beteken, mag verskeidenheid nie tot verdeeldheid aanleiding gee nie.
Elke gelowige se eie kultuur moes eerder ondergeskik gestel word aan die opdrag om die evangelie te verkondig aan almal. So het Paulus vir die Jode soos ’n Jood benader en die heidene soos ’n heiden (1 Kor 9:20-21). Om dit te doen is nie maklik nie. Ook nie om hulle in een gemeenskap te verenig nie. Dié dat baie gelowiges die nastreef van die nuwe verenigde gemeenskap van God as ’n onbereikbare ideaal beskou.
Die Nuwe Testament self gee egter praktiese riglyne vir hoe Christene dit kan verwesenlik. Prakties moet gelowiges hulleself beklee met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld, liefde en ’n bereidwilligheid om mekaar te vergewe (Kol 3:12-14).
Die eenheid tussen gelowiges word verder nie deur reëls en regulasie bepaal nie maar deur die navolging van die nederige, sagmoedige en geduldige voorbeeld van Christus. Innige meelewing dui op die opregte en hartlike besorgdheid oor ander en hul lewe. Goedheid is die ingesteldheid om aan ander net dit wat goed is te betoon.
In ’n gepolariseerde wêreld moet Christene daarom nie net vir elkeen ’n plek in die son gun nie. Hulle moet vir mekaar ruimte maak in hul hart.
▶ Dr Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.
