Jan de Wet was die pionier van populêre Afrikaanse geestelike musiek. Hy het waarskynlik ’n groter rol gespeel om die kerklike musiektoneel die afgelope klompie dekades te verander, as enigiemand anders. Neels Jackson het met hom gesels.
Jan de Wet se gedagtes gaan ver terug as hy praat oor die beginjare van sy musiekbediening.
Destyds was so ’n gedagte vreemd in die NG Kerk. Al musiek wat gemeentes gehad het, was die orrel en gemeentesang. En dalk ’n koor.
Vir ’n energieke, talentvolle jong dominee se musiektalente was daar nie plek nie.
Dié musiek het in sy studentedae begin, toe hy en Martie Hellferscee as die sangpaar Jan en Martie opgang gemaak het. Hy het die roeping gekry om dominee te word, maar die musiek het al sterker geword. Daar was selfs ’n Sarie-toekenning wat meer deure geopen het en uitnodigings om op te tree laat instroom het.
In Helderberg in Somerset-Wes waarheen hy beroep is, het hy elke preek afgesluit met ’n lied wat hy gekomponeer het en waarmee hy “die spyker musikaal ingekap het”, so met die kitaar op die kansel.
Dit het goed gewerk, vertel De Wet, al was daar ou dominees in die ring wat baie ontsteld was daaroor.
Aanklagte
Ander gemeentes het hom ook genooi om te kom optree. Ook uit ander kerke, soos die AGS. Dit het die jong dominee ’n paar aanklagte op die hals gehaal. Hy verwar die lidmate deur so by “die sektes” op te tree, is daar destyds gesê.
Sy verweer was: As julle dink die NG Kerk se leer is reg, behoort julle my uit te stuur om daar te gaan optree. Hy is seker vier keer aangekla, sê De Wet, maar telkens onskuldig bevind.

Later het hy gevoel dis onbillik teenoor sy eie gemeente om so dikwels elders op te tree. Hy het gevra of hulle hom nie kan uitstuur nie, dat hy sy musiekbediening onder hulle beskerming kan gaan doen.
Die kerkraad was heeltemal ontvanklik vir die idee, maar die kerklike owerhede was nie gereed daarvoor nie. “Dit sal die deur open vir ’n stokperdjiebediening,” is daar gesê.
Hy het studieverlof geneem om tyd te wen, maar vergeefs. Uiteindelik het ds Jan de Wet in 1983 sy predikantstatus laat vaar om Jan de Wet, die sanger, te word.
Sy pa, ds PA de Wet, het baie skepties met sy seun gaan praat. “Hy het gedink ek gee my roeping prys,” vertel De Wet. “Maar toe hy besef dis ’n nuwe roeping om die Woord met musiek te bring, toe word hy my grootste aanhanger.”
Dit was ’n geweldige sprong, vertel hy. Ook finansieel was dit ’n risiko. Maar die afgelope 33 jaar al sorg die Here.
Slaggate
Daar was slaggate wat hy moes vermy. Die een is die slaggat van roem. Jou gesig is op plakkate. Mense voer radio-onderhoude met jou. Dit kan so maklik gebeur dat dit begin gaan oor roem pleks van diensbaarheid.
Of dat jy nie die volle boodskap bring nie. Toe hy gesing het van “swart teen wit en wit teen swart”, was dit ’n risiko, vertel hy. As jy die waarheid praat, kan jy mense se steun verloor.
’n Ander gevaar is dat jy ’n “lone ranger” word as daar niemand is wat inspraak in jou lewe het nie. Hy sien te veel sulke kunstenaars wat teenoor niemand verantwoordelik is vir wat hulle doen nie.
Daarom het hy drie of vier mense gevra om geestelike inspraak in sy lewe en bediening te lewer.
De Wet gesels oor die gevaar dat ’n mens ter wille van kommersialiteit diepte prysgee. Soms word lirieke geweldig oppervlakkig. Daar is kere dat gospelkunstenaars se musiek verskraal tot lofprysing – en dan gaan die opdrag na die wêreld toe, die profetiese stem, die seer en twyfel en vrese verlore.
“Musiek moet die hele waarheid dra,” sê hy.
Kindermusiek
Op versoek van ’n vriend met ’n kinderbediening het hy ’n album met kindermusiek opgeneem. “Dit was ’n oornagsukses,” vertel De Wet. En dit het ’n hele nuwe dimensie tot sy bediening toegevoeg.
Die geheim van suksesvolle kindermusiek is drie-ledig, verduidelik hy: eenvoud, vreugde en beweging. Daarmee saam is dit ’n uitdaging om die evangelieboodskap suiwer te hou.
“Dit is so belangrik. Jy vorm ’n kind met musiek. Dit móét die waarheid wees. Hulle sluk dit hook, line en sinker. Dis jou mees ontvanklike gehoor.”
Manne wat Glo
Die laaste twee jaar het daar nog ’n nuwe uitdaging en avontuur oor sy musiekpad gekom: Manne wat Glo. Dit is hy, Willie Joubert, Leon Ferreira en Dewald Gouws. Vier kunstenaars wat elkeen ’n solo-loopbaan het, maar wat by geleentheid saam sou optree.
Dis ’n geweldige sukses, vertel De Wet, dalk omdat daar so ’n behoefte is aan hoop.
Dit het gevra dat hulle almal aanpassings moes maak na mekaar toe. Die uitdaging is om as eenheid op te tree. Maar die gevolg is ’n nuwe dinamiek wat ontstaan.
Ja, daar is teologiese verskille tussen hulle, maar die gemeenskaplike grond is genoeg dat hulle baie goed saamwerk.
Hulle was nou al twee keer saam in Australië en Nieu-Seeland waar hulle vir uitgeweke Suid-Afrikaners gaan sing het.
Op 66 is Jan de Wet ’n dankbare boodskapper van die Here. Sy gesondheid is goed. Sy stem hou nog.
Van afskaal is daar nie sprake nie. Hy is volstoom aan die gang. En solank hy iets vir mense kan beteken, sal hy so voortgaan.
