Ons het so baie geleer oor watter kos kleuters vir goeie ontwikkeling nodig het.”
Só praat Dorothea Swarts, een uit 65 kokke uit die Worcester-distrik wat op 14 en 21 Mei 2016 vir voedselopleiding vergader het. Dié kokke is verantwoordelik om daagliks vir honderde kinders by kleuterskole in die omgewing kos te gee.
“Voldoende daaglikse voeding is belangrik vir konsentrasie en die algemene ontwikkeling van die kleuters. Mens kan nie verwag ’n kind moet aandag in die kleuterskool gee as hulle honger is en aan wanvoeding ly nie,” sê ds Hans Steyn van die NG gemeente Worcester-Vallei wat vir die kokopleidingskursus betaal het.
Die opleidingskursus is deur die NID (Nasionale Instituut vir die Dowes), die Grapevine Forum, die plaaslike Departement vir Maatskaplike werk en die NG gemeente Worcester-Vallei aangebied. Dié inisiatief vorm ook deel van die NG Kerk se sinodale fokus op Vroeë Kinderontwikkeling (VKO).
Steyn vertel verder: “In September 2015 is daar vir die eerste keer ’n saamtrek van alle VKO-sentrums in Worcester en omgewing gehou. Na afloop van die kursus is die Grapevine Forum gestig. Alle VKO-sentrums in die Worcester-omgewing het by die Forum geregistreer.
Die Forum het tans twee hooffokuspunte naamlik die rekenaaropleiding van VKO-sentrums se skoolhoofde en die opleiding van die VKO-sentrums se kokke. Daar word ook tans ’n netwerk ontwikkel waar die kokke se vordering gemonitor kan word.
Die plan met die netwerk is om bewus te wees van die behoeftes van die VKO-sentrums en om die behoeftige skole van vars groente en vleis te voorsien.”
Dáárom is daar by die opleidingskursus nie net aan kosmaaktegnieke aandag gegee nie, maar ook ’n reeks ander aspekte wat daarmee verband hou én maklik agterweë gelaat word. Die opleiding het saam met die voorbereiding van voedsel ook persoonlike en werkspasie-higiëne, die berging van kos, aankope van bestanddele, inligting oor die voedingswaarde van voedselsoorte, ontwikkeling van gebalanseerde spyskaarte, spesifiek vir kinders, en selfs die opstel van ’n begroting, ingesluit.
Die kokke is ook nie met leë hande huis toe nie. Elke kok het die volledige stel kursusmateriaal met illustrasies, wat oor die twee dae se opleiding met hulle behandel is, asook ’n resepteboek ontvang. Die resepteboek se inhoud is spesifiek gefokus op heilsame voedsel vir kleuters.
“Ek is geïnspireerd Saterdag daar weg. Ek het ’n passie vir kook en hierdie geleentheid het my weer hoop gegee om my eie spysenieringsbesigheid op die been te bring. Ons gaan ook sertifikate kry!” vertel Gladys Cupido opgewonde.
“Die kursus het vir my hoop en inspirasie gegee om te weet ek kan met kennis ’n groter verskil in kinders se lewe maak,” sê Cupido.
