Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘The Big C’ – kritiek op die kommersialisering van godsdiens

Die Laaste Avondmaal van Leonardo da Vinci is waarskynlik een van die mees bekende en herkenbare kunswerke van alle tye. Dit het vanweë die magdom uiteenlopende reproduksies daarvan feitlik ikoniese status verwerf.

Die wyse waarop Da Vinci hierdie sleutelgebeurtenis in die Evangelieverhaal uitgebeeld het, het ook ’n beslissende uitwerking gehad op die meeste latere voorstellings daarvan. Die lang reghoekige tafel met Jesus in die middel en die dissipels almal aan die een kant van die tafel weerskante van Jesus – dit het min of meer die standaard geword wat deur die meeste kunstenaars nagevolg is.

Een van die meer resente herinterpretasies van Da Vinci se skildery is ’n reeks van meer as honderd skilderye deur die Amerikaanse “pop”-kunstenaar, Andy Warhol (1928-1987). Hierdie reeks bekend as The Last Supper was ’n opdragwerk wat Warhol in 1986 geproduseer het vir die opening van ’n galery regoor die kerk in Milaan waar die oorspronklike Da Vinci-skildery teen een van die binnemure geverf is.

Die spesifieke skildery wat bekend staan as The Last Supper (The Big C), vorm deel van hierdie groter reeks en gee op ’n besondere wyse uitdrukking aan Warhol se bedoeling met die reeks as geheel.

Advertensiewese

Hierdie massiewe werk van 10×3 meter word gekenmerk deur die samevoeging van kontrasterende elemente uit uiteenlopende verwysingsvelde. Fragmente gebaseer op Da Vinci se Laaste Avondmaal word naas beelde uit die advertensiewese geplaas en op dié manier in gesprek met mekaar gebring.

Die effek hiervan op die waarnemer is ontstemmend omdat dit nie net die ikoniese status van Da Vinci se skildery op ironiese wyse ondermyn nie, maar ook die betekenis van die maaltyd self problematiseer.

Die feit dat slegs fragmente van die tradisionele uitbeelding gebruik word, dwing die kyker om hierdie beelde buite die oorspronklike konteks van “hoë” kuns te sien. Deur die assosiasie met beelde uit die alle­daagse kommersiële kuns word dit aangebied asof dit net nog ’n produk van die verbruikersamelewing is.

Terselfdertyd word die materiaal uit die kommersiële kuns op omgekeerde wyse binne die raamwerk van “hoë” kuns geplaas om daarmee aan te dui dat die kunswerk iets meer wil wees as ’n oppervlakkige verbruikersboodskap.

Die spesifieke kommersiële beelde wat in hierdie kunswerk gebruik word, is nie sonder betekenis nie: die vlerk-embleem van die drie Honda-motorfietse is deur Warhol vereenselwig met die vlerke van engele, terwyl die oog wat die embleem van die Amerikaanse Wise-aartappelskyfies is, as die alsiende oog (van God) geïnterpreteer kan word. Die $6,99-prysetiket dui daarop dat dit wat hier as kommoditeitsartikel “te koop” aangebied word, teen ’n winskoopprys beskikbaar is.

Kritiek

Met hierdie samevoeging van religieuse en kommersiële beelde lewer Warhol kritiese kommentaar op die kommersialisering van godsdiens en die kommodifisering van die Christusfiguur.

Godsdiens word uitgebeeld as ’n kommersiële bedryf waarby individue moet “inkoop” as uitdrukking van hulle geloof en toewyding, terwyl die betekenis van Christus verlaag word tot die vlak van ’n kommoditeit wat naas ander kommoditeite deur die verbruikersamelewing geproduseer word.

’n Verdere betekenisvlak word in hierdie kunswerk ontsluit wanneer dit in verband gebring word met Warhol se beroemde portrette van “celebrities” soos Marilyn Monroe, James Dean en Elvis Presley – die meeste van hulle persone wat op ’n relatief jong ouderdom op tragiese wyse gesterf het.

Die feit dat die Christusfiguur herhaaldelik en byna obsessief in die Last Supper-reeks uitgebeeld word (vier-maal in The Big C), dui daarop dat Hy voorgestel word as iemand wat op dieselfde wyse as hierdie ander persone tot “celebrity”-status verhef word en op byna sentimentele wyse as tragiese heldefiguur vereer word.

Die eintlike groot C

Die titel van die skildery wat redelik prominent deel uitmaak van die kunswerk self, word ontleen aan die opskrif van ’n koerantadvertensie oor die behandeling van kanker (die groot, onnoembare “C”), maar word hier op Christus (die eintlike groot “C”) van toepassing gemaak. Dit versterk die motief van Christus wat deur die kommersialisering van godsdiens as bruikbare kommoditeit vir mense aangebied word.

Dat Warhol die bedoeling gehad het om met hierdie reeks skilderye kritiese kommentaar te lewer, word bevestig deur die feit dat hy ten spyte van sy eksentrieke en boheemse leefwyse ’n toegewyde gelowige was wat gereeld die Katolieke mis bygewoon het, feitlik daagliks saam met sy ma wat by hom gewoon het, gebid het en gereeld diens gedoen het by ’n sopkombuis in New York.

’n Afdruk van Da Vinci se Laaste Avondmaal het in die kombuis van die huis waarin hy grootgeword het, gehang.

Dit is op ’n vreemde manier betekenisvol dat hierdie omvangryke reeks skilderye die laaste werk is wat deur Warhol geproduseer is. Skaars ’n maand na die afsluiting van die uitstalling in Milaan het hy op 22 Februarie 1987 as gevolg van komplikasies ná ’n galblaasoperasie gesterf.

Dr André Bartlett is die hoof van Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedieningsontwikkeling aan die Universiteit Pretoria.

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top