Die Vriendschap-boerdery naby Melmoth in KwaZulu-Natal is ’n familie-onderneming, ’n saak waarin geloof ’n belangrike rol speel. Neels Jackson vertel.
Dis vroegoggend as die werkers in ’n skuur by Mtonjaneni saamkom. Die naam Mtonjaneni beteken “by die fontein” en dit verwys na ’n fontein daar naby waar die Zoeloekoning Dingaan sy drinkwater laat haal het.
Hier boer die broers Harris en Smit en hulle familie saam. Biologies is hulle halfbroers, maar in hulle verhouding is hulle ongekwalifiseerd, voluit broers. Saam verbou hulle suiker en avokado’s. Daar is plantasies, beeste en wild.
Victor Smit vertel daar is ’n leuse wat lui: “A family that prays together, stays together.” Die geloof begin by jouself, en dan kring dit verder uit.
Dit is sowat 12 jaar gelede dat dit op ’n besondere manier uitgekring het na die werkers toe.

Ds Marthinus van Rooyen (81) vertel dit was in 2004 dat die broers hom genader het om met ’n bediening onder hulle werkers te begin. Op nege verskillende punte versprei oor die plase het hy elke week dienste gehou.
Vir Oom Marthinus, soos hy bekend is, was dit nie vreemde werk nie. Hy het diep spore in die bediening aan Zoeloesprekendes getrap – onder meer as rektor van die Teologiese Skool Dingaanstat en as predikant in sinodale diens met opdrag sending van die NG Kerk in KwaZulu-Natal.
Na ’n jaar het hy vyftien of sestien van die werkers opgelei om die oggenddienste te hou, sodat die werk selfstandig kon voortgaan. Hulle het die materiaal van projek Amos gebruik, vertel hy.
Duisend Bybels
Hulle het seker al ’n duisend Bybels onder die mense versprei, vertel Nico Harris. As werkgewers subsidieer hulle die Bybels. Die werkers hoef net R10 daarvoor te betaal.
Nou gaan Oom Marthinus so elke ses maande terug vir ’n week. Dan besoek hy al die bedieningspunte en gee verdere opleiding vir die groep leiers.
Dit alles gebeur in Zoeloe, want baie van die werkers is nie Afrikaans of Engels behoorlik magtig nie.
Vir die groepie werkers wat die oggend by Mtonjaneni voor hom in die skuur sit, bring hy op sy rustige manier die boodskap van die evangelie. Hy probeer koninkrykswaardes vaslê, vertel Oom Marthinus.
Die saad val nie altyd op vrugbare grond nie. Die invloed van die Shembe-beweging en die voorvadergeeste is nog sterk.
Maar daar is sterk gelowiges onder die werkers. Mense soos Henderson Ngema wat nou as slagter by die Vriendschap-boerery werk.
Hy het lank tronkstraf uitgedien omdat hy ’n man vermoor het. Dié man het Ngema se vrou doodgemaak, en hy het wraak geneem.
In die tronk het hy tot bekering gekom en toe vir Harris geskryf dat as hy uitkom, wil hy by hom kom werk. Toe hy die dag vrygelaat word en daar opdaag, is hy in diens geneem as blokman.
Oor hierdie bediening onder hulle werkers, sê Smit daar word soms in die kerk te veel klem gelê op uitreike na ver plekke. “Almal wil in China gaan sendingwerk doen.” En dan word die naby werk soms afgeskeep. Hulle wil hier rondom hulle ’n verskil maak.
Dit doen hulle ook ter wille van hulle kinders. Hulle glo die volgende geslagte sal die seën ervaar op die werk wat hulle nou doen, soos wat hulle nou die seën beleef op die werk wat die vorige geslagte gedoen het.
Daarom is hulle ook op ’n holistiese manier by hulle werkers betrokke. Daar is die geestelike bediening deur die weeklikse oggendbyeenkomste, maar hulle help ook met opleiding en ontwikkeling van die mense in hulle omgewing.
Grondhervorming
Daar is byvoorbeeld 8 000 ha grond in ’n grondhervormingsprojek na ’n gemeenskap van 900 mense toe oorgedra. Die Vriendschap-boerdery help en ondersteun hierdie bure van hulle om van hulle boerdery ’n sukses te maak.

“Hoe gaan dit daar?” vra Smit en antwoord sy eie vraag dan met ’n verduideliking.
Dit hang af hoe jy sukses meet. Hulle is nie op die vlak van ’n kommersiële boerdery nie, maar hier behels sukses iets anders as dit.
As jy die status wat die grond gehad het, kan behou en geleidelik vaardighede na die mense toe oordra, dan is dit ’n sukses, verklaar hy.
Die gemeenskap wat daar boer, is gelukkig. Hulle voel daar is vordering.
En die Vriendschap-boerdery word beskou as deel van die gemeenskap. Dit is waarin die sukses lê.
Harris merk op dat daardie grond nou meer werd is as toe die staat dit gekoop het.
Boerdery in Suid-Afrika kan ’n moeilike en riskante onderneming wees. Smit sê die feit dat hulle ’n netwerk van familie is wat saam boer, maak dit vir hulle makliker. ’n Boer wat op sy eie die mas moet opkom, het dalk ’n taaier stryd.
Die indruk wat ’n besoek aan die Vriendschapboerdery laat, is dat ’n basis van evangeliese waardes ’n stewige fondament bied, dat daar met realisme daarop gebou word, en dat hierdie boere die toekoms met vertroue tegemoet gaan.
Soos Smit sê: “Geloof is om te doen – en te glo dat dit gaan vrug dra.
