Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dr Johan Pienaar, gewese moderator van die NG Kerk se Noordelike sinode, kuier op die paviljoen saam met 'n groep oumas van Soweto. Dit was tekenend van die hartlike verhoudinge oor kleurgrense by die Versoeningsaamtrek in Soweto. Foto: Neels Jackson

Min mense, maar die begin van ‘n reis

“Ons het vandag ‘n domino omgestamp.”

Met dié woorde het dr Kobus Gerber, vorige algemene sekretaris van die NG Kerk, te kenne gegee dat die swak opkoms by die Vredesaamtrek in Soweto hom nie moedeloos maak nie.

Die klein skare wat wel opgedaag het, was waarskynlik minder as tweeduisend mense, waarvan sowat die helfte wit en helfte swart was.

Onder hulle was daar twee busse vol NG mense uit Pretoria, onder meer die meeste leiers uit die Noordelike Sinode. Die sinodale leiers uit die NG Kerk in Wes-Kaapland het ook vir die dag uit die Kaap gevlieg om die saamtrek by te woon.

Soweto se mense het die saamtrek egter grootliks geïgnoreer.

Ds Nelis Janse van Rensburg, moderator van die Algemene Sinode, het gesê hy is teleurgeslteld oor die opkoms, maar dat die dag se program uitstekend was.

Mnr Jan Malan, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Weermag-Veteranevereniging, was ook glad nie van stryk gebring deur die swak opkoms nie. Hulle gaan voort met die mense wat daar was, het hy gesê.

Verskeie ander kerkleiers het ook gepraat van die reis wat met die saamtrek begin het. Dit was duidelik dat niemand van hulle aan die saamtrek as ‘n eendaggebeurtenis gedink het nie. Dit was die afskop van ‘n proses.

Die studenteonrus van veertig jaar gelede was uiteraard ‘n belangrike fokuspunt van die dag, maar die dag het ook oor heelwat meer gegaan.

Mnr Dan Motsitsi van die 16 Junie-Stigting wat die Soweto-jeug van veertig jaar gelede verteenwoordig, het byvoorbeeld moeite gedoen om aan te toon dat Afrikaans ‘n inheemse taal is wat deel van die Suid-Afrikaanse gemeenskap moet bly.

Hy het ook gesê hulle omarm die dienspligtiges van destyds. “Julle is ambassadeurs van vrede en versoening,” het hy gesê. Die saamtrek is volgens Motsitsi die begin daarvan dat almal saamwerk vir vrede.

Dr Pieter Bezuidenhout wat namens die dienspliggenerasie gepraat het, het gesê die destydse dienspligtiges is trots op hulle opleiding. Hy het gevra dat hulle aanvaar word en gehelp word om gesond te word. “Gee ons geleenthede om te help bou,” het hy gesê.

Bezuidenhout het gesê die twee groepe moet mekaar by die kruis ontmoet. As hulle mekaar by die verlede moet ontmoet, sal die verdeeldheid bly.

Gerber het gesê as die dienspliggenerasie en die destydse jeug van Soweto hande vat, is dit die begin van groot dinge.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top