Geduld. Dis waarvoor ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinodale moderamen, gevra het terwyl die appèlle teen die Algemene Sinode se besluite oor verhoudings tussen mense van die selfde geslag gehanteer word.
Van Rensburg het ook ‘n klompie inligting deurgegee oor die verloop van die proses nadat die moderatuur van die Algemene Sinode onlangs vergader het.
Dit sluit in dat die Algemene Taakspan Regte (ATR) kennis gegee het dat hulle ‘n Appèlkommissie goedgekeur het met die opdrag om die appèlle wat ontvang is te beoordeel en te hanteer.
Die Algemene Sinodale Moderamen, wat in September vergader, moet egter eers die samestelling van die kommissie goedkeur, aangesien die Algemene Sinode nie sekundi vir die ATR aangewys het nie. Die ATR se regsadvies was dat persone wat lede was van die Algemene Sinode 2015 nie op die appèlkommissie kan dien nie. Die appèlkommissie moet uit lede van die ATR aangewys word. Sekundi moet nou opgeroep word om die appèlkommissie te vorm. Slegs enkele ATR lede was nie teenwoordig by die 2015 sinode nie.
Intussen het Dr Chris van Wyk, voorsitter van die Oos-Kaapse moderatuur, en van die ander voorsitters van sinodale strukture byeengekom om reeds oor besluitnemingsprosesse te praat indien die appelle gehandhaaf word. Dan moet almal immers weer terugkeer na die tekenbord oor selfdegeslagverhoudings. Van Wyk het die prosesvoorstelle aan die moderatuur beskikbaar gestel. Die moderatuur het met Dr Van Wyk se instemming besluit om nie nou die voorstelle by die ASM te laat dien nie, maar eers te wag vir die afhandeling van die appelle.
Ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen, het nie aan die gesprekke oor die prosesse deelgeneem nie. Hy meen dat gesprekke oor die pad vorentoe indien die appèlle teen die selfdegeslagbesluite slaag, voortydig is.
“Die appèlproses moet nou sy loop neem. Die moontlikheid is groot dat die appèlkommissie net die tegniese appèlle gaan beoordeel, maar die beginselbesluit gaan verwys na die volgende vergadering van die Algemene Sinode in Oktober 2017.”
Janse van Rensburg het ook gesê dat alles moontlik gedoen sal word om voor die volgende Algemene Sinode regsekerheid te verkry oor die sinode se bevoegdheid om appèlle te hanteer.
Die ATR gee ook oorweging daaraan om by die volgende Algemene Sinode nuwe aanbevelings te maak oor die reg op appèl teen besluite van ‘n Algemene Sinode. Besware kan immers ook ingebring word deur middel van ‘n gravamen of beswaarskrif. Die vraag is of appèlle hoegenaamd toepaslik is met betrekking tot beginselbesluite van die Algemene Sinode. Ook hieroor sal regsekerheid verkry word.
Janse van Rensburg het ‘n beroep op almal gedoen om geduldig te bly. Hy sê hy was die afgelope tyd in gesprek met lidmate wat gewag gemaak het van die lyding wat die uitgerekte proses vir persone met homoseksuele oriëntasie veroorsaak. Hy het egter ook vertoë ontvang van persone wat meen dat die kerk eerder nuwe opsies moet oorweeg. Laasgenoemde sal uitsluitsel deur die Algemene Sinode oor die beginsel van die saak langer uitstel.
“Ons moet nou stap vir stap vorentoe gaan. Ons het geen keuse as om ons eie reëls te volg nie. Ons het immers ook so ooreengekom met mekaar.”
Janse van Rensburg sê: “Ons versoek ons kerkvergaderings en lidmate om te bid vir die proses, die appèkommissie, asook diegene wat appèlle aangeteken het. Laat ons bid vir deeglike en ewewigtige prosesse wat die kerk en die koninkryk dien. En laat ons voortgaan om ons werk met ywer te doen. Ons is immers getuies van die Evangelie en dus van die hoop wat in ons leef. Ons het baie werk.”
