Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

In die Christelike tradisie het voetewas die sterk simboliese betekenis van diensbaarheid gekry. By Wellington Moederkerk se onlangse Local is lekker-basaar het voetewas egter op ’n ander manier gefunksioneer, toe klein dogtertjies soos prinsesse bederf is. Lelani le Roux was hier ’n prinsessie se voete in die “Kroontjie tot toontjie bederfwerf”. Elke dogtertjie kon haar voete en hande laat versorg en haar gesig laat verf. En sulke bederf is tog ook deel van die Christelike liefde vir mekaar. Foto: Lettie Büchner

ToekomsNou fokus op verhoudings

In kinderbediening was daar die afgelope paar jaar ’n drastiese skuif weg van ’n materiaalgedrewe bediening na een met ’n verhoudingfokus.

Só sê ds Gert van der Merwe, portefeuljekoördineerder van ToekomsNou, die Hoëveldsinode se jeug-en-gesinsbediening. Hulle fokus nou sterk daarop om gemeentes te help om die huis deel van die gemeentebediening te maak.

By ToekomsNou se kinderbedieningskonferensie in Bonaeropark het al die hoofsprekers (Heini Berner, Tom en Lollie Smith en Johan Smith) die noodsaaklikheid van gesonde vertrouensverhoudings aangeraak. Materiaal en modelle maak nie dissipels nie, maar wel goeie omgeeverhoudings met mense. Johan Smith noem dit: “Ek is by jou”-verhoudings.

Ons kan nie meer met kinders werk sonder om die huis, gesin en groter familie deel te maak van die verantwoordelikheid nie. Die missionale rol van die kerk is aangeraak deurdat ons daarop gewys is dat ons met die skoolgemeenskap hande moet vat om kinders en onderwysers se lewe positief te beïnvloed met die visie om God se koninkryk in mense se lewe te laat kom, sê Van der Merwe.

Realiteits-TV is lekker, maar realiteitskerk is veel nuttiger, sê Erich Posthumus, wat sy drama- en sangtalent gedeel het. “Leiers besef al hoe meer dat lidmate nie net bepreek moet word nie, maar toegerus moet word om ’n impak in hul gesin, werksplek en land te maak – vandaar die feit dat om dissipels te maak, geloof in aksie verg. ’n Geloof wat doen, saamdoen en aanhou oefen om reg te doen. Kerk word ’n werklikheid; nie net ’n passiewe luister na ’n preek nie.”

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top