Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Jaco Strydom

Kerk is om verweef te leef met die ander

Ds Niel Steyn hou nie lang CV’s voor toe hy ds Jaco Strydom aan die gehoor bekendstel nie. Hy sê bloot: “Hierdie man is my vriend. Hy mors mens op, op ’n goeie manier.”

Strydom gesels oor die Echo Communities: Tien verskillende huise, regoor die land, waar jongmense vanuit verskeie lae van ons samelewing op ’n omgee-manier met mekaar leer saamleef.

Hy vertel hoe hy kerk herontdek het. As kind was kerk vir hom die plek waar hy die minste homself kon wees: Stil, stemmig, verveeld. Nie “home” nie. “Home” is juis waar ’n mens jouself kan wees. Waar jy kan lag, huil, omarm, dans, baklei, eet, speel, en lank en stil kan droom …

Hy moes die kerk as “home” vir homself herontdek. Nie as ’n huis van vrees nie, maar ’n huis van liefde.

Die woord “community” help hom daarmee. Nie die Afrikaanse woord “gemeenskap” nie. Community, in die ryk sin van verbondenheid, groei en ontwikkeling. Tot by die broos en helende punt om geken te word vir wie ek werklik is – nie net op Sondagoggende nie, maar in my elke dag-realiteit. Om te groei in ’n dieper betrokkenheid by mekaar – ’n groei wat dikwels dieper gaan wanneer getalle minder word. Om menswees te omhels – in al sy morsigheid en verwondering; om werklik en doelbewus sáám te lééf.

Om te leef is pynlik, erken Strydom. Maar daar is twee soorte pyn: die pyn van “loneliness”: eensaamheid, alleenheid, afgesonderdheid. Of die pyn van “intimacy”: van naby-leef, só verweef dat dit seer maak. Moeiliker, maar meer die moeite werd, glo hy.

Want hulle sien dit werk in hulle Echo Communities: Mense groei meer en beter, so in ’n gemeenskaplike verbondenheid. Hulle word mekaar se spieëls. Uitdagers. Voorsieners. Beskermers. Leermeesters. Steunpilare. Teenwoordig in mekaar se lewe. Hulle aanvaar. Deel. Leef, eenvoudig.

Binne die sekerheid dat die bestaan van ’n verhouding nie op die spel is nie, kan mense waag om te verskil. Om te word wie hulle werklik is. ’n Mens skree nie liefde oor ’n afstand nie, herinner Jaco, jy fluister dit van weerloos naby. Hoe word kerk “home”? Hy reken: “Jesus came down to earth. Maybe we should too.”

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top