Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Onderwys: Kerke moet die ouers help

Daar is 59% van Graad 4’s in Suid-Afrika wat nie met begrip kan lees nie, en 27% van die Graad 4’s is ongeletterd. Wanneer ’n kind teen Graad 3 nie kan lees nie, is dit baie moeilik om die siklus om te draai.

Servaas van der Berg 2
Prof Servaas van den Berg verduidelik die stand van basiese onderwys tydens sy voordrag by die Winterskool. Foto: Jacobie M Helena

Prof Servaas van der Berg, hoogleraar in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch, hou dié syfers voor aan die Winterskool en noem dit “uiters kommerwekkend”.

“Die kwantiteit van basiese opvoedingsinstansies in Suid-Afrika lyk nie so sleg nie, maar die groot probleem is die kwáliteit van die opvoeding wat beskikbaar is. Slegs 10% van die basiese opvoedingsinstansies in Suid-Afrika se kwaliteit is voldoende,” sê Van der Berg.

“Die basiese opvoedingsonderwysers is ’n groot probleem. Die studies dui aan dat daar gemiddeld slegs drie ure per dag produktief vir leer in die meeste skole aangewend word. Die probleem is dat daar nie voldoende kontrole oor die onderwysers se produktiwiteit in die klaskamers gedoen word nie. Die ure wat die kinders wél in die skool is, word nie suksesvol vir leer aangewend nie.”

Tydens die vraesessie is die brandende vraag op almal se lippe: “Wat kan kerke doen?”. Volgens Van der Berg is die antwoord beslis nie om bloot geld in die opvoedingsisteme te gooi nie. Die probleem is nie dat daar te min fondse vir opvoeding in Suid-Afrika beskikbaar is nie, maar eerder hóé dit aangewend word.

Hy identifiseer twee belangrike areas waar die kerk se rol onmisbaar kan wees. Die kerk het eerstens die vermoë om invloed op ouers te hê.

Studies toon duidelik die verskil tussen kinders van betrokke en afwesige ouers aan. Ouers moet nie hul rol in die kinders se onderwys onderskat nie. Ouers wat vir hul kinders lees, hul huiswerk nagaan en by die skool betrokke is, se invloed op die kinders is onmeetbaar. Kerke kan ouers konstant aan hul belangrike rol herinner.

Tweedens, kan kerke ’n belangrike rol in die beheerliggame van die skole speel. Kerke het die publie­ke stem om ’n verskil in die burgerlike samelewing te maak, sê Van der Berg.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top