ʼn Klein seuntjie met ʼn rooi hemp dwaal op die koue Maandagoggend rond tussen die rommel wat plek-plek nog smeul.
Twee dae tevore het sy ouers se hout-en-sinkhuis nog daar gestaan. Toe kom Saterdagnag se brand, en 229 huise word verwoes. Dit was plakkerwonings, maar vir 229 gesinne was dit hul tuiste. Nou is dit net rommel waaruit ʼn klompie mans probeer om iets bruikbaar te herwin: ʼn sinkplaat of wat, ʼn stuk draad, terwyl die reuk van brand en riool in die lug hang.
In die vroeë oggendure van Sondagoggend (3 Julie 2016) het verskeie inwoners van Woodlane Village, by sommige bekend as Plastic View, noodoproepe gemaak na mense wat hulle oor tien jaar leer ken en vertrou het. Mense van die NG gemeente Moreletapark wie se groot kerkgebou net langs hulle plakkerbuurt staan.
En toe kom die omgee-evangelie in aksie – in die vorm van gebede en dade.
Pieter Breytenbach, gemeentebestuurder van Moreletapark, vertel hoe hulle die brandweer gehelp het om deur die kerk se terrein by die plekke uit te kom wat brand. Deur die gemeente se netwerk en deur ʼn facebookbladsy wat die Ooste van Pretoria bedien, het die oproep om hulp uitgegaan. En die hulp het ingestroom.
“Dis Matteus 25 wat hier gebeur,” sê ds Gretha Serfontein waar sy in ʼn saal staan waar vrywilligers besig is om groot stapel klere en komberse uit te sorteer. Sy praat oor mense wat sonder klere is vir wie daar klere gegee word; mense sonder ʼn tuiste wat gehelp word; mense sonder kos vir wie daar maaltye gebring word …

Foto: Neels Jackson
Dié hulp-aksie het ʼn lang aanloop. Oor ʼn dekade het Moreletapark en die gemeenskap van Woodlane Village op verskeie maniere bande gesmee. Van Woodlane se mense woon Moreletapark se diens in Afrikatale by. Hulle is deel van Moreletapark se geloofsgemeenskap, sê Breytenbach.
Daar is mense uit die plakkerbuurt wat vir Moreletapark werk, soos Donald Banda, die voorsitter van Woodlane se bestuurskomitee. Banda vertel dat van Woodlane se mense vaardighede in Moreletapark se kursusse geleer het wat later gehelp het dat hulle werk kon kry.
Daarby is ʼn klomp van die plakkerbuurt se kleuters in die kleuterskool by Moreletapark.
Serfontein vertel dat die gemeente einde Mei ʼn dag van vas en verootmoediging gehou het om die Here se wil vir die gemeente te soek. Toe praat die Here met hulle deur Jesaja 58.
Daar vra God vir Israel: “Is die vas wat ek wil hê, nie dít nie: om dié wat onregverdig gevange gehou word te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek? Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ʼn blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie?”

Hulle het besef hulle moet baie meer by die gemeenskap betrokke raak, sê Serfontein.
Kort daarna het spanning tussen verskillende inwoners van Woodlane Village ontstaan en Moreletapark het van die ouers en kinders ʼn tyd lank veilige huisvesting gebied.
Nou, na die brand, was dit nie eers ʼn vraag nie. Hulle het gaan help. Saam met Tshwane se rampbestuur, die Gautengse regering, die polisie, ander gemeentes soos Lux Mundi en die Gereformeerde Kerk Wapadrant, en die breër gemeenskap is hulle daar om mense in nood te help.
Maar hulle is ook versigtig om te help op ʼn manier wat mense op hulle voete help, en nie vorme van afhanklikheid skep nie.
Banda sê dat Woodlane se mense die hulp van die kerk af beleef as die liefde van Christus wat na hulle toe kom. En hulle is afhanklik daarvan, sê hy.
– Mense wat wil help, kan Felicia Lategan van die gemeente skakel by 012 997 8021.
