Die Moderatuur van die Noordelike Sinode het kritiek uitgespreek op die nie-amptelike vergadering van moderators wat onlangs byeen was om oor die situasie rakende die Algemene Sinode se besluit oor selfdegeslagverhoudings te praat.
Dr. Dewyk Ungerer, voorsitter van die Noordelike Sinode se moderatuur, is na die byeenkoms genooi, maar het dit nie bygewoon het nie. Hy het die uitnodiging met die moderatuur van die Noordelike Sinode gedeel en die moderatuur het Ungerer geadviseer om nie die vergadering by te woon nie.
Een rede waarom Ungerer die uitnodiging nie aanvaar het nie, is sy betrokkenheid by die appèlproses. Die moderatuur noem egter ook die volgende vier prinsipiële redes vir hulle advies:
- Daar bestaan nie ʼn liggaam soos “die vergadering van moderators” in die NG Kerk se strukture nie.
- Die byeenkoms is gereël sonder die instemming van die Algemene Sinode se leierskapstrukture. Dit dui op ’n gebrek aan deursigtigheid wat nie deel van die kerk se werkswyse kan wees nie.
- Die Algemene Sinode se moderamen (ASM) het gekies vir bepaalde prosesse wat gevolg moet word in die hantering van die appèlle en ons wil graag die voorgestelde prosesse vertrou. Ons ondersteun die ASM om op grond van die adviese van kerkregtelikes en ander regskundiges die bes moontlike wyses te vind om die hantering van die besluite waarteen geappelleer is, ter bevrediging van alle partye te probeer oplos. Dit is beslis nie die taak van ʼn vergadering van “moderators” nie.
- Ons verwag groter sensitiwiteit van leiers in die kerk oor ʼn saak waaroor diepgaande meningsverskil bestaan.
Vroeër het ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen en van die Wes-Kaapse moderatuur, gesê hy beskou dit as voortydig om nou gesprekke te voer oor die pad vorentoe indien die appèlle sou slaag. Hy het gesê die appèlproses moet nou sy loop neem.
Janse van Rensburg het ook nie aan die vergadering van moderators deelgeneem nie.
Dr Chris van Wyk, voorsitter van die Oos-Kaapse moderatuur, het by navraag gesê die byeenkoms van moderators was ‘n informele gesprek. Niemand het toestemming nodig om ‘n voorstel voor te berei vir ‘n vergadering nie. Hulle het nie gepraat oor die hantering van die appèlle nie, maar oor wat gebeur nadat die appèlproses afgehandel is, of die appèlle aanvaar of verwerp word.
Van Wyk sê die sewe moderators wat die vergadering bygewoon het, is nie ‘n drukgroep nie. Hulle dink nie eens almal dieselfde oor selfdegeslagverhoudinge nie. Hulle wil bloot die kerk help.
Wat hom betref is dit nie voortydig om nou te praat oor wat gebeur nadat die appèlproses afgehandel is nie. “Leiers kyk vorentoe en maak planne,” het hy gesê.
