Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Só bring Hy deur ons hoop’

Bid en bring hoop. Dit is die boodskap van ‘n brief van dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, aan die kerk se lidmate teen die agtergrond van die komende munispale verkiesing op 3 Augustus.

Claassen se volledige brief lui:

Die 2016-munisipale verkiesing op 3 Augustus word wyd beskou as een van die moeilikste en belangrikste verkiesings tot op datum. Dit feit dat tweehonderd meer partye vanjaar deelneem as tydens die vorige verkiesing in 2011, is waarskynlik tekenend hiervan.

Die verkiesing vind plaas teen die agtergrond van die ekonomiese gaping tussen ryk en arm wat in die huidige ekonomiese bedeling nog verder vergroot. ‘n Onvergenoegdheid met onder andere die huidige politieke leierskap op alle vlakke van regering, swak dienslewering, werkloosheid en armoede het ongekende frustrasie, aggressie en woede by veral diegene wat grootliks afhanklik is van die staat, tot gevolg. Tekenend hiervan is die toename in stakings en protesaksies gedurende die afgelope jare.

0719 Bid vir SA

Die mededinging om kiesers dryf tans die politieke spanning in die land op die spits. Dit het ’n uiters ongesonde verkiesingsklimaat tot gevolg. Onverdraagsaamheid, intimidasie en betogings ruk op plekke hande uit, soveel so dat daar selfs faksiegevegte en politieke moorde voorkom. Volgens die Onafhanklike Verkiesingskommisie (OVK) moet die gewelddadige betogings in aanloop tot die munisipale verkiesing nie net die kommissie bekommer nie, maar alle Suid-Afrikaners.

Hierdie omstandighede bied egter aan die lidmate van die NG Kerk ‘n besondere geleentheid om getuienis te lewer van ons geloofsoortuigings. Die kerk is gebore uit die gebeure van Christus se lyding en opstanding te midde van geweldige politieke frustrasie. Die kruis en opstanding van Jesus het egter nuwe perspektiewe geopen en buitengewone hoop gebring. In die koninkryk van Christus kon ons sedertdien met ander verwagtings en waardes leef. Ons fokus is nie meer op eie belang en magsvertoon nie, maar op Christus se geregtigheid en vrede vir almal. Ons het ‘n hoopgewende alternatief vir magspolitiek en selfsug. Die bydrae van christene tot ons land en wêreld is dus in hierdie dae van geweld en stryd om Christus se liefde, geregtigheid en vrede, sy diensbaarheid en selfloosheid te verkondig en te beliggaam. Verder is ons sekerheid van God se teenwoordigheid ‘n blywende inspirasie om Hom na te volg. Galasiërs 5: 21 sê teenoor die praktyke wat deur die sondige natuur van mense geïnspireer word, is die vrug van die Gees liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheesing. Só bring Hy deur ons hoop.

Ons is as kerk besorg oor ons talle mede-landsburgers wat nie toegang tot skoon water, ordentlike opvoeding, goeie mediese sorg, behuising, werksgeleenthede ens het nie. Ons glo dat goeie administrasie en bestuurspraktyke, goeie dienslewering, en morele leierskap in elke dorp en stad grootliks sal bydra tot geregtigheid en die menswaardigheid van ons land se mense. Ons bid daarom dat die nuutverkose leiers van plaaslike regerings hulle volle aandag hieraan sal wy en in die styl van Christus hulle naaste met ‘n gees van toewyding en selfloosheid sal dien.

Ons versoek nou alle lidmate om saam met ons te bid vir die verkiesing en die uitkoms daarvan. Gebed is immers ‘n geloofsbelydenis dat bo alles, God in beheer is. Met die oog op die munisipale verkiesing op 3 Augustus, vra ons dat onder meer vir die volgende sake voorbidding gedoen word:

  • Vir ‘n vrye en regverdige verkiesingsproses sonder omkopery, manipulasie, intimidasie.
  • Vir die regte gesindheid van kandidate van die verskillende partye en die politieke leiers.
  • Vir vrede tydens en na die verkiesing, ongeag die uitslag daarvan.

Vir verkose leiers wat hulle sal beywer vir geregtigheid en vrede, versoening en positiewe nasiebou, en die verligting van armoede en werkloosheid.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top