Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Van links is Rowan Smith, Laurie Gaum, Mike Botha, JP Meyer en Jeanine Maske.

‘n Veilige ruimte vir die ‘anderste onder ons’

“Hoe kom ons tuis, maar hoe laat óns tuiskom?”

Só het prop Laurie Gaum Saterdag (16 Julie) by die Breytenbachsentrum op Wellington die oop gesprek met die tema “Die anderste onder ons en hoe hulle tuis kom” opgesom.

Dié gesprek is gehou tydens “Swart”, ’n kunsuitstalling by dié sentrum, wat gedagtes oor die tema losgemaak het.

Gaum het vertel dat “die ander” verskillende goed vir verskillende mense beteken maar dat daar dikwels van “hulle” en “ons” gepraat word as gevolg van ’n “onbekendheid met die minderheidsgroep se ervaring”.

In die Christelike tradisie moet ons tog doen aan ander wat ons aan onsself gedoen wil hê, het hy gesê.

Elke persoon wil kan tuiskom en “uitkom” is deel van persoonlike tuiskoms vir gay mense, het Gaum gesê.

Rowan Smith, voormalige deken van die St George-katedraal en selferkende gay man, het gesprek en gesê: “Jý kan nie jouself wees, as jy ontken wie ék is nie.”

JP Meyer, een van die kunstenaars, het sy verhaal van uitkom as gay man gedeel en vertel hoe hy jare gelede by die kerk gaan leiding soek het, maar verdoem is en sodoende tot vandag toe sy rug op die kerk gedraai het. Laurie het vertel hoe verras en opgewonde hy en ander gay mense was na die NG Kerk se besluit dat gay-predikante en formele gay-verbintenisse welkom in die kerk is. Die besluit wat intussen gevries is “omdat die kerk verstrik geraak het in kerkregtelike rompslomp”, het veroorsaak dat die NG Kerk nie as ’n veilige ruimte vir gays gesien word nie.

Wat is die NG Kerk se huidige posisie oor tuiskoms vir gay mense, was talle mense in die gehoor se vraag. “Ek hoop daar is uitkoms vir NG dominees,” het ds Fourie Rossouw, deeltydse predikant by NG Moedergemeente in Wellington, grappenderwys gesê. “Die mooi van die NG Kerk is dat hul dit steeds regkry om ʼn proses van dialoog hierrondom te skep, ten spyte van wollerigheid. Daar is dus ruimte op voetsoolvlak vir NG dominees en kerkrade om ‘veiligwordende’ ruimtes te skep al sloer die kerk as geheel om so ’n ruimte te wees.”

Smith het ten slotte herinner dat die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan ’n tipe gids moet wees wanneer met “ander” omgegaan word. “Wie is jou naaste? ‘Ek is die naaste,’ sê Jesus.” Gay mense is op soek na ʼn veilige ruimte, máár hulle moet ook ’n veilige ruimte vir ander mense wees, sê Smith.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top