Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die rommel wat versamel is word geweeg en punte word daarvoor toegeken. Met dié punte kan mense by die projek­winkel gaan inkopies doen. Foto’s: Louise Jackson

’n Kruiwa vol hoop

Britstown se storie is op ’n manier die storie van kruiwaens. Dis ook die storie van armoede en die stryd tussen wanhoop en hoop. Neels Jackson vertel.


Op die laaste dag van Junie kom Ant Fêntjie Speelman sukkel-sukkel aangestap na die weeklikse biduur van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) in Britstown. Dis skoolvakansie en net die getrouste lidmate is daar.

Ds Hanri Joubert, predikant van die VGK en die NG gemeente op die dorp, vra hulle om vir die besoe­kers iets te vertel van hulle gemeenskap.

Ant Fêntjie skud haar kop. Haar gemeenskap is arm. Werkloosheid is hoog. Maar dis nie daarvan wat sy vertel nie. Sy vertel van die drank wat verwoesting saai. Selfs kinders drink so vreeslik. En die drank word in onwettige kroeë in die buurt verkoop. Dan speel hulle harde musiek wat die heel nag deur lawaai.

Dis hieroor wat Ant Fêntjie wil hê ons moet bid.

Ná die biduur gaan laai Hanri vir Ant Fêntjie by haar huis af. Die omgewing is taamlik stil. Al die kroeë is nog toe. Niemand het meer geld nie. Dis die einde van die maand.

Maar middernag sal die mense tou staan by die kitsbank. Dan word hulle maatskaplike toelaes inbetaal en kan hulle geld trek. Dan maak al die kroeë ook oop.

Johnny se vrag
Johnny February bring ’n vrag rommel vir herwinning. Dit sit darem brood op die tafel, sê hy.

Baie mense bestee dié geld net aan twee dinge, vertel Hanri. Hulle koop drank, en hulle koop kruiwaens om die drank mee huis toe te vat. Letterlik. Dis kruiwavragte drank wat die strate af gestoot word.

Daardeur word die maatskaplike verval in die bruin gemeenskap net meer en meer. Dit is die konteks van die een deel van Hanri se bediening.

Klein gemeente

Die ander is die NG gemeente wat soos baie plattelandse gemeentes al kleiner word en wat soms voel die res van die kerk en die land het hulle op die platteland vergeet.

Een van die dinge wat Hanri in die NG gemeente aangetref het toe hy einde 2013 Britstown toe beroep is, is ’n trotse geskiedenis van steun aan sendingwerk in Suidoos-Asië. In hulle eie omgewing was dit egter nog ’n enorme uitdaging om betrokke te raak by die breër gemeenskap.

Die nuwe dominee en van sy lidmate het hieroor begin gesels en vir mekaar vrae gevra soos: Wat beteken God se sending? En: Wat is ons rol in ons gemeenskap?

Johnny se kruideniersware
So lyk die kruideniersware wat Johnny February kon koop met die 30 punte wat hy vir sy rommel gekry het.

Hanri vertel hy het gou besef van die NG lidmate van Britstown sit met dieselfde vrae as hy. Dis nie nuwe vrae wat hy gebring het nie. “Ek het eintlik maar net op die bandwagon gespring,” vertel hy.

Daar is besluit om die steun aan sendingwerk in Suidoos-Asië voort te sit, maar dat hulle voortaan net twee sendelinge met wie hulle goeie bande opgebou het, ruim sou ondersteun.

Maar dan wou hulle ook in hulle eie gemeenskap betrokke raak. Dis ’n klein gemeente, maar Hanri praat met waardering van toegewyde lidmate wat ’n verskil wil maak. Die vraag was hoe hulle dit kon doen.

Uitreikdiens

En soos so dikwels het die antwoord by die vrouediens begin.

Die gemeente se vrouediens, vertel Hanri, was in daardie stadium ’n bietjie koersloos. Daar was nie ’n fokus of ’n roepingsgevoel nie. Toe hou hulle ’n vergadering om te besluit of die vrouediens moet voortbestaan.

Ontbind wou hulle nie. Hulle moes iets doen. Die aanvanklike gedagte was om kospakkies uit te deel, maar dit het uiteindelik nie van die grond af gekom nie. Vir wie gee ’n mens in ’n gemeenskap soos Britstown waar armoede soos ’n kombers oor die dorp lê?

Uiteindelik is besluit om die vrouediens te omskep in die Britstown-uitreikdiens. En toe die voorsitter, Marietha Raath, sê sy het oor die radio gehoor van ’n herwinningsprojek op Gansbaai, het daar ’n liggie vir almal opgegaan.

Aanvanklik was die fokus op kinders. Hulle kon enige rommel bring en vir elke sak rommel sou hulle punte kry. Hanri sê hulle wou nie kontant betaal nie, omdat dit so maklik drankgeld sou kon word.

Hier kom die rommel
Mense van Britstown kom by die skouterrein aan met die rommel wat hulle vir herwinning bymekaar gemaak het.

Die punte kon die mense dan by ’n projekwinkeltjie gaan ruil vir kos, skoolgoed soos potlode en lineale, of lekkers.

Hanri onthou dit as ’n roerende oomblik om kin­ders te sien wat nog nooit enige keuse in ’n winkel kon maak nie, en wat nou kan kies wat hulle vir hulle punte wil hê. Dit het ’n bietjie menswaardigheid vir hulle gebring.

Een van die lidmate, Sakkie von Molendorff, het ’n vertrek by sy vulstasie beskikbaar gestel waarheen die rommel gebring kon word.

Maar die hele projek het gou onhanteerbaar geword. Waar daar in die eerste week tien kinders was wat rommel gebring het, was daar baie gou honderde.

Die rommelvertrek by die vulstasie was gou vol en die projek het na ’n saal op die dorp se skouterrein getrek. Maar dit het geblyk ’n onhanteerbare taak te wees om alles te sorteer. En toe hulle uiteindelik ’n vrag rommel De Aar toe ry waar dit herwin kon word, kry hulle daarvoor minder as die brandstofgeld van die rit.

Die dorp was skoon. Daar was mense wat nou kos kon koop. Maar die projek was nie volhoubaar nie. Dit sou herbedink moes word.

Keerpunt

Die keerpunt het gekom toe ’n groepie Britstowners tydens ’n besoek aan Kimberley gesels het met iemand wat daar in die herwinningsbedryf is. Daar het hulle geleer dat die rommel saamgepers moet word om die volumes te verminder wat vervoer moet word. Dit sou ook meebring dat meer rommel op ’n slag vervoer kan word en dat die vervoer baie meer kostedoeltreffend sou word.

Die vraag was nou waar hulle ’n pers vir hierdie doel kon kry. Maar toe die man vir hulle ’n ongebruikte pers gee om te gebruik, was hierdie probleem ook opgelos.

Nou is daar Woensdagmiddae ’n ander kruiwa-toneel wat hom in Britstown afspeel. Sakke vol rommel word nou met kruiwaens aangery na ’n omheinde afdak op die skouterrein. En dié wat nie kruiwaens het nie, dra dit skouterrein toe.

Daar is kleintjies soos Sussa Oerson en Vanessa Fortuin (albei 9) wat met hulle sakke rommel daar aankom. En groot mans soos Johnny February wat sy vrag rommel vir die week aanry. Johnny se kruiwa dra blikkies en bottels en wat nog – alles netjies gesorteer in verskillende sakke.

Hy het nie ’n ander werk nie, sê Johnny. En hierdie is darem ’n manier om brood op die tafel te sit. Hy het die goed alles van Kakamas af gebring, vertel hy. Dit klink baie vreemd, totdat Hanri verduidelik dat Kakamas die naam van die plaaslike rioolplaas is.

Almal wat rommel gebring het, staan in ’n tou voor Kobus Hatting. Hy werk nou vier maande hier en weeg al die rommel en ken die punte toe. Johnny kry 30 punte vir sy vrag rommel.

Kobus se assistente, Fanie Martiz, Anthony Louw en Willem Louw, ontvang die rommel en hanteer dit verder. Die blikkies word uitgesoek om die aluminium van die blik te skei. Dan gaan dit na die pers toe.

Ook vir hulle bied die herwinningsprojek nou ’n werk en ’n inkomste. Hanri verduidelik dat werkskepping nou een van die fokusse van die projek geword het.

Winkel

Die winkel
Die winkel waar mense met hulle punte kan gaan koop. Agter die toonbank is tannie Martie van Tonder.

Van die skouterrein af, is dit terug dorp toe na waar tannie Martie van Tonder op ’n jong 69 die winkel bestuur. Dis vir haar lekker om met mense te werk, vertel sy.

In die rakke van die glastoonbank voor haar, is die ware te sien. ’n Sakkie mieliemeel kos vyf punte. ’n Sakkie suiker gaan vir twee punte. Vir een punt kan ’n mens ’n dosie vuurhoutjies of ’n suigstokkie kry. Daar is ook kof­fie, tee, meel, chips, gis, en ’n klom­pie ander goed beskikbaar.

Johnny February dink mooi oor hoe hy sy 30 punte gaan gebruik. Uiteindelik stap hy met ’n hopie kruideniersware daar weg wat vir ’n hele paar maaltye sal sorg.

Op die skouterrein word die bale saamgeperste rommel al meer. As dit genoeg is om ’n vrag te maak, sal dit weggery en verkoop word. Dié slag behoort daar ’n redelike inkomste te wees wat die projek se voort­bestaan sal verseker.

Sedert Britstown met die projek begin het, moes hulle deur verskeie aanpassings gaan na aanleiding van die lesse wat hulle geleer het. Waar hulle nou is, is nog nie die eindpunt nie.

Hanri dink byvoorbeeld daaraan om die puntestelsel te verruil vir ’n koeponstelsel. Hy wil vir diegene wat die rommel inbring, koepons gee, en hy wil met die dorp se sakelui onderhandel dat mense met die koepons by die winkels kan kom koop. Op hierdie manier kan hulle vir hulle mense ’n wyer verskeidenheid produkte bied, terwyl hulle terselfdertyd die dorp se besighede ondersteun.

Die herwinningsprojek is een van die maniere waarop Britstown se gelowiges hulle dorp wil help om ’n gesonde gemeenskap te wees.

Planne vir ’n sentrum vir vroeë kinderontwikkeling vorder ook goed.

Daarby help lidmate op ander terreine.

Wilma Strauss, wat ook voorsitter is van die Vroue-Landbouvereniging (VLV), vertel byvoorbeeld dat die VLV van die dorp se arm kinders geborg het om op De Aar aan ’n eisteddfod te gaan deelneem. Dit was iets waarvan dié kinders geen ervaring gehad het nie. En toe kom hulle terug as wenners!

Sy sê dit het vir haar begin voel daar is weer hoop op Britstown.

Hanri by die rommel
Ds Hanri Joubert by die bale saamgeperste blikkies wat Britstown se herwinningsprojek gaan verkoop.

Hanri is passievol, sê sy. Hy inspireer. “Jy het iemand nodig om die vuur aan te steek en dis wat hy doen.”

Waaroor gaan gemeentewees? vra Wilma, en antwoord self: “Ons moet die koninkryk uitbou. Ons is die verteenwoordigers van Christus. As almal net wil besef waaroor dit gaan. Dit gaan nie oor ons nie.”

Hanri merk op dat as die kerk in Suid-Afrika nie by gemeenskapontwikkeling betrokke is nie, dan dink hy nie ons verstaan die evangelie nie.

En ’n mens kan sien hoekom hy dit sê. Want bietjie vir bietjie is die herwinningsprojek besig om ’n verskil te maak.

Dit beteken baie vir die dorp, sê Von Molendorff as hy by die winkel verbykom. Mense is honger. Die hongersnood is groot en hier kan hulle kos kry. Boonop lyk die dorp ook al 50% beter.

Nie net word die onmiddellike honger van verskeie mense gestil nie. Stadig maar seker word daar ook gebou aan ’n alternatief vir die wanhopige soort lewe wat van armoede probeer ontvlug deur kruiwaens wat kraak onder die vragte alkohol.

Nou help kruiwaens vol rommel om ’n ander per­spektief op die lewe oop te maak. ’n Perspektief waarin ’n mens met eerlike werk kos kan verdien, waarin die wanhoop plek maak vir selfrespek en hoop.

Bietjie vir bietjie help dit om ’n siek gemeenskap in Britstown gesond te maak.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top