Rieneke Schutte is ouma van sewe kleinkinders wat wyd verspreid oor die aarde woon. In die middestad van Pretoria het sy nog ’n hele paar honderd. Onder haar leiding dra PEN se Inner City Pre-School Forum (ICPF) by tot die welstand van 1 700 minderbevoorregte kleuters. Ernst Muller vertel.
Reeds as ’n jong ma van drie het Rieneke Schutte haarself voluit in plaaslike kinderbediening gestort. Sy het Hugenote Kollege se korrespondensiekursus in Jeugbediening voltooi en in haar gemeente as jeugouderling gedien. In 2000 het sy by PEN in die middestad van Pretoria aangesluit, waar sy later hoof van Pennies-kleuterskool geword het.
In PEN se soektog na maniere om dié mooi werk onder kinders van minderbevoorregte ouers uit te brei, het hulle die beginsel van bate-gebaseerde gemeenskapsontwikkeling raakgeloop. In plaas daarvan om nóg eie nuwe inrigtings en bedienings te stig, fokus dié benadering op dienste wat rééds in die gemeenskap bestaan, en wyses waarop sulke werk verryk en uitgebou kan word.
Hulle navorsing het aan die lig gebring dat daar dosyne informele kleuterskole en ongeregistreerde dagmoeders in die middestad is. Sommige funksioneer in haglike omstandighede, vér onder die standaarde wat die staat vereis. Desperate behoeftige ouers het egter geen ander opsies as om van sulke dienste gebruik te maak nie; die diensverskaffers is dikwels self mense wat veg vir oorlewing, terwyl dit die kinders is wat die spit afbyt.
Agt jaar later bedien die ICPF se span, bestaande uit Rieneke, Belinah en Thandaza, meer as dertig sulke dagmoeders en kleuterskoolpersoneel met opleiding, inspirasie en bemoediging. Só word die standaarde van versorging voortdurend opgeskuif. Rieneke deel een so ’n treffende voorbeeld:
Rachel se skool
“Toe ons met Rachel kontak gemaak het, het sy daagliks 35, later so veel as 50 kleuters, in haar eenslaapkamer-woonstel opgepas. Ons het beswaar gemaak. Bure het begin kla. Rachel het elke opleidingsgeleentheid bygewoon en die riglyne begin toepas. Vandag is dié Kongolese vrou hoof van ’n netjiese kleuterskool met 80 kinders, personeel, klaskamers, brandblussers, ’n noodhulptas en ’n doelgerigte opvoedkundige program. Sy besoek plaaslike laerskole om vas te stel hoe ‘haar kinders’ vorder, en is trots op die positiewe terugvoer wat sy kry”.

Die waarde wat hierdie vennootskap op die vroue se eie lewens en selfvertroue het, is van onskatbare waarde. Sestig persent van hulle kom uit ander lande in Afrika, met al die bykomende struikelblokke en uitdagings wat dit bied. “Ons werk met dié mense wat niemand anders mee wil werk nie,” sê Rieneke.
Vir ’n arm kind wat in die middestad grootword, is daar talle slaggate: die moontlikheid om in die strikke van dwelms, bendes, misdaad, prostitusie en mensehandel te beland – of om ’n hawelose “straatkind” te word.
Die verhoging van die standaarde van vroeë kinderontwikkeling waarborg geen sukses nie, maar bied kinders ’n welkome voorsprong. Om skoolgereed te wees, gestimuleer te word om te leer, taalvaardig te wees en in staat om sosiaal in te pas, mag net dié kritiese verskil maak wat die skaal na die regte kant toe laat swaai.
As ’n kerklike instansie is die forum onbeskaamd Christelik georiënteerd, alhoewel enige persoon welkom is om in te skakel. Baie van die vroue is gelowiges en waardeer hierdie geleenthede vir interaksie en geestelike groei. Skole met name soos His Blessing, Wonders of his Grace, Christ Home en King’s Kid weerspieël iets van hulle oortuigings.
Bybelverhale
Hulle kleuters leer Bybelverhale en geestelike liedere, wat nie net die grondslag vir hulle eie geloofskeuses lê nie, maar wat hulle ook tuis met hulle vermoeide en belaste ouers deel.
’n Positiewe getuienis word uitgedra: Precious (skuilnaam), vertel Rieneke, is kwaad vir die Here en gelowiges, maar woon gereeld opleidingsessie by en het mettertyd ’n goeie vriend geword. Toe daar Bybels geskenk word en die forum-lede genooi word om daarvan te neem, tel Precious ook een op en sê kwaai: “You lot! You are going to make me read this one day!”
So ’n goedgevestigde en betroubare netwerk skep geleentheid vir gemeentes, staats- en opvoedkundige instellings, besighede en enkelinge om op sinvolle maniere saam te werk in gemeenskapsontwikkeling.
Dit skep ruimte vir studente wat verpligte gemeenskapswerk moet doen. En vir die leërskare van ervare en kundige afgetredenes in die NG Kerk (waarskynlik een van ons grootste onderbenutte bates) bied bedienings soos hierdie gulde geleentheid om die stukkende wêreld te help heelmaak, en diep in ons nageslag se leefwêreld te belê.
Van aftree wil hierdie ouma niks weet nie. “Nee”, sê sy, “daar is hierdie ‘roeping-ding’ hierbinne wat dit onmoontlik maak. Solank ek kan, wil ek kinders, wat liggaamlik, intellektueel, geestelik, emosioneel, sielkundig en sosiaal héél is, help skool toe stuur!”
▶ Vir meer inligting besoek die facebookblad PEN Inner City Preschool Forum.