Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Dis sunny in Sunnyside, want die Here woon hier’

Op ’n koel wintersoggend by die Arcadia Diens­sentrum in Pretoria is ’n groep bejaardes besig is om Kersrangskikkings en -kaartjies vir ander nie-bevoorregtes te maak.

Hulle is inwoners van Harmoniehof, ’n tuiste vir behoeftige bejaardes wat deur die NG Kerk se Noordelike Sinode bedryf word. Baie van die inwoners wat by die dienssentrum inskakel, is daar afgelaai en het daarna nooit weer van hulle familie gehoor nie.

In ouderdom wissel die groep van 73 tot 93 jaar. Hulle ontvang nie net liefdevolle sorg nie. Hulle gee dit ook vir ander.

Die Kersprojek is maar een manier waarop hulle help om die lewe vir ander mense beter te maak. Een van hulle ander projekte is om te brei: musse vir diégene wat die koue winters op straat beleef. Soms word die musse en serpe uitgedeel, soms word dit verkoop – nie vir baie nie, maar vir diégene wat dit gebrei het, is dit tog ’n welkome inkomste.

Die dienssentrum het ook ’n groot klereprojek. Mense van buite skenk klere en die dienssentrum help daarmee behoeftiges wat soms met weinig of niks by die sentrum aankom. Maar dié genade vloei ook verder, na mense wat op straat bly.

Harmonie inwoners en Rina du toit
Rina du Toit (agter), stigter van die dienssentrum, staan by van die sentrum se lede waar hulle om ’n koppie tee kuier nadat hulle die oggend Kersversierings gemaak het. Van links is Alta Gouws, At de Klerk (met ’n selfgebreide serp om sy nek), Nita Lunly en Iris Roux. Foto: Nico Smit

Rina du Toit is die stigter van die Arcadia Dienssentrum. Sy vertel dat dit 22 jaar gelede begin het en dat die dienssentrum aan niemand anders behoort as die Here Jesus self nie. Hulle word ondersteun deur die NG gemeente Pretoria en die middestadbediening Pen.

“Ons het met niks begin nie,” sê sy. Sedertdien het die Here voorsien en voorsien. In die proses het die ontvangers van hulp ook gewers geword.

Die groot verrassing het gekom toe die Noordelike Sinodale Kommissie vir Diens van Barmhartigheid die gebou van die vroeëre Harmonie Jeugoord gekoop het. Rina en haar man het vloer vir vloer begin restoureer en vandag woon daar sowat 95 bejaardes in die tuiste.

In die kombuis werk Philip Tlou, wat alles verloor het nadat al sy besittings een aand in ’n brand verwoes is. Die Arcadia Dienssentrum het vir Phillip ingeneem en die bejaardes dra by om Phillip weer op die been te kry. Op tasbare wyse leef hulle die genade van die Here Jesus Christus uit teenoor iemand wat dit nodig het.

Rina se oë skitter as sy van die dienssentrum praat. Sy sê dat sy deeglik bewus geword het van mense se swaarkry in die lewe, maar dat dié wat hier opdaag hulle eie seerkry en pyn eenkant plaas, om deur een óf ander gebaar iemand anders se dag op te helder.

Die dienssentrum leef die hart van die evangelie uit: God se liefde vir sy mense. Selfs bejaardes met Parkinson se siekte en artritis word hier God se hande en voete. Hulle leuse formuleer dit só: “Om mekaar raak te leef, te omhels en nie mekaar om te stamp nie.”

In die hartjie van Pretoria kry soveel bejaardes nie net ’n tuiste en sorg vir hulle moeë liggaam nie, maar ook die geleentheid om vir ander te kan gee.

Soos een van die inwoners dit bevestig uit Psalm 136: “Loof die Here, want Hy is goed. Ek maak wéér ’n verskil in iemand anders se lewe.”

En as hy groet, wegstap en waai, voeg hy by: “Dis sunny in Sunnyside, want die Here woon hier!”

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top